Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus dien klag in by Groen Skerpioene oor wanfunksionerende Kroonstad-rioolaanleg

Die VF Plus het ʼn klag by die Groen Skerpioene ingedien oor die Kroonstad-rioolaanleg, wat ernstige gesondheids- en omgewingsprobleme vir inwoners in die gebied veroorsaak.

Die aanleg is in 2016 teen ʼn koste van R39 miljoen opgegradeer en was kortstondig funksioneel. Dit het weer onklaar geraak en in 2021 het die regering ‘n bykomende R11 miljoen bewillig vir herstelwerk.

Onlangs is ʼn verdere R95 miljoen deur die departement van water en sanitasie goedgekeur, waarvan R40 miljoen reeds aangewend is. Tog bly die aanleg buite werking en rioolvervuiling duur voort.

Die voortdurende situasie laat onverwerkte riool in die Valsrivier en Vaalrivier beland, wat kritiek-belangrike waterbronne vir die gemeenskap is.

Daar heers intussen groot kommer oor die kwaliteit van drinkwater wat sigbaar vuil is en duidelik nie behoorlik gesuiwer word nie. Dit stel inwoners se gesondheid in ernstige gevaar.

Hoewel die Moqhaka-munisipaliteit faktore soos vandalisme en verouderde infrastruktuur verkwalik, is dit die VF Plus se standpunt dat swak bestuur, nalatigheid en die aanstelling van onbevoegde kontrakteurs die eintlike oorsaak van die probleem is.

Adjunkpresident Paul Mashatile het verlede week op versoek van die VF Plus in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) onderneem om die probleem te ondersoek.

Die tyd het aangebreek dat die ANC en sy kontrakteurkartelle in Moqhaka gestuit word aangesien die omgewingskade en besoedeling nie net Kroonstad raak nie, maar drinkwater in talle Vrystaatse dorpe bedreig.

Die ramp het katastrofiese gevolge vir beide gesondheid en die ekosisteem in die provinsie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.