Die VF Plus was vandag by die Brakpan-polisiekantoor om ‘n klag te bespreek wat ingedien gaan word teen ‘n amptenaar in die behuisingsdepartement van die Ekurhuleni-metroraad wat omkoopgeld van behoeftiges gevra het sodat hulle nie uit hul staatshuise geskop word nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling.
Volgens adv. Alberts is tot die stap oorgegaan aan die hand van advies wat onlangs ontvang is van die Openbare Beskermer (OB) oor wanadministrasie en swak dienslewering by Ekurhuleni se department van menslike nedersettings.
Die betrokke amptenaar het volgens getuies glo verskeie kere omkoopgeld gevra sodat mense hul staatshuise kon behou, of om 'n wooneenheid te ontvang ten koste van ander mense wat op die waglyste is.
Die oortredings is glo gepleeg by laekoste-behuisingseenhede in Tweedy Park in Brakpan en Farrarmere Gardens in Benoni aan die Oos-Rand.
Die VF Plus het reeds in April verlede jaar die OB versoek om ondersoek in te stel na bewerings van wanadministrasie en korrupsie in die department nadat die klagte geen aandag by die Ekurhuleni-metro gekry het nie.
Die OB het sterk standpunt ingeneem ten gunste van die twee nedersettings se inwoners, en het onder meer beveel:
Mense wat sonder ‘n hofbevel uit hul huise gesit is moet weer geplaas word;
Die dispariteit in huurgeld moet verwys word na die Huur-Behuisingstribunaal vir beslissing;
Ondersoek moet ingestel word na voorvalle waar inwoners glo op onbehoorlike wyse gedagvaar word oor huurgeld; die beleid van eienaarskapoordrag en waarom dit, anders as voorheen, nie meer gedoen word nie; swak onderhoud wat in sommige gevalle lewensgevaarlike omstandighede skep soos by Tweedy Park waar water in hysbakskagte afgeloop het en die vereiste dat inwoners elke twee jaar hul huurkontrakte moet hernieu waar dit nie voorheen nodig was nie;
Die bedrog-ondersoek van die department teen ‘n amptenaar wat met plasings werk, moet voortgaan;
‘n Gesin waarvan al die lede gestremd is, moet weer geplaas word nadat hulle vroeër weens beweerde wanbetaling uit hul woonplek gesit is.
082 391 3117 / 012-6650564