Die VF Plus het daarin geslaag om ’n besparing van sowat R100 000 per maand vir belastingbetalers in die Mafube-plaaslike munisipaliteit te bewerkstellig nadat ernstige onreëlmatighede met munisipale selfoonkontrakte aan die lig gekom het.
As deel van sy oorsigverpligtinge het die VF Plus ontbloot dat gesubsidieerde selfone en datapakkette uitgereik is aan amptenare en werkers wat nie daarvoor kwalifiseer nie.
In sommige gevalle is selfs meer as een kontrak aan dieselfde persoon toegestaan.
Ná volgehoue druk van die VF Plus is 50 onnodige selfoon- en datapakkette vroeg in Januarie beëindig. Met ’n gemiddelde koste van R2 000 per kontrak per maand, beteken dit ’n besparing van sowat R1,2 miljoen per jaar vir die munisipaliteit.
Dit is uiters kommerwekkend dat sulke buitensporige uitgawes toegelaat is in ’n munisipaliteit wat bankrot is, sukkel om salarisse te betaal en nie eens basiese toerusting kan bekostig om waterlekkasies te herstel nie.
Mafube is tans onder provinsiale administrasie, wat ernstige vrae laat ontstaan oor die doeltreffendheid van toesig en bestuurspraktyke.
Die VF Plus het reeds in ’n brief aan die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Saki Mokoena, gewaarsku oor hierdie en ander onreëlmatighede.
Die party dring daarop aan dat belastingbetalers se geld teruggevorder word van die ongemagtigde gebruikers.
Die VF Plus sal aanhou om wanbestuur en vermorsing in Mafube bloot te lê. Hierdie besparing van meer as R1 miljoen is ’n bewys dat toegewyde oorsig en volgehoue druk werklik ’n verskil maak.


