Die VF Plus twyfel of die administrateurs wat deur die Gauteng-provinsie aangestel is om die Tshwane-metroraad te bestuur, die regsbevoegdheid het om die begroting vir die 2020/21-finansiële jaar goed te kan keur.
Die huidige administrasiebevel in terme van Artikel 139 (c) van die Grondwet, is bedoel om stabiliteit in ‘n munisipale raad te bring en kan slegs ‘n tydelike begroting goedkeur.
Die volwaardige begroting moet egter deur ‘n munisipale-raad goedgekeur word, en nie deur die administrateurs nie. Indien die begroting wel deur die administrateurs goedgekeur word, sal die tariewe op hersiening geneem kan word, en ongeldig verklaar kan word.
Die voorgestelde tariewe is as volg:
Tarief 2020/21 Voorgestelde verhogings:
Riolering 6,6%
Vullisverwydering 6%
Water 6,6%
Elektrisiteit 6,23%
Eiendomsbelasting Per waardasierol
Die VF Plus is bekommerd dat die aangestelde administrateurs nie die huidige ekonomiese klimaat in ag neem nie, en die verhogings groter skade vir die ekonomie en verbruikers sal beteken wat reeds onder geweldige druk verkeer.
Die voorgestelde verhogings is onrealisties en daar moet eerder na koste-besparings gekyk word, met korting vir besighede wat geraak word as gevolg van die Covid-19-pandemie.
Die VF Plus is ook van mening dat skole en landbou-hoewes se munisipale belastings en tariewe buitensporig is en versoek dat daar korting aan hulle toegestaan moet word.
Navrae: 072 815 4053