Drakoniese regulasies wat bepaal dat Suid-Afrikaners wat vanaf buurstate en die buiteland gerepatrieer word en vir veertien dae in kwarantyn geplaas word, moet sodanig gewysig word dat mense die keuse gegun word om, indien hulle dit kan doen en bewys daarvan kan lewer, selfkwarantyn/isolasie toe te pas.
Suid-Afrikaners wat gerepatrieer word het, sedert die aanvang van die inperkings, telkens by geriewe opgedaag wat nie gunstig is vir menslike gebruik of aan enige gesondheidstandaard voldoen het nie.
Die jongste voorval by die Mercure-hotel in Nelspruit waar mense geweier word om deur privaat-instansies vir Covid-19 getoets te word, is ‘n voorbeeld van die ANC-regering se magsugtige regulasies. Die VF Plus het reeds die afgelope Maandag die voorval onder die departement van gesondheid se aandag gebring en daar word tans deur die departement met die provinsiale regering van Mpumalanga oor die aangeleentheid geskakel.
Mense kan nie vir veertien dae aangehou word en private toetsing geweier word nie. Sodra mense by grensposte aankom, moet hul temperatuur geneem word en sodra hulle by die betrokke geriewe aankom, moet hulle getoets word. Indien hulle negatief toets, moet die dokter by die gerief hul vrylatingsdokumente uitreik en onderteken. Om mense aan te hou en weier dat hulle getoets word, hetsy deur die staat of privaat, is ‘n gruwelike skending van menseregte.
Die VF Plus is van mening dat mense wat self kan isoleer of kwarantyn toepas, toegelaat moet word om dit te doen. Daar bestaan die nodige tegnologie om te monitor of mense wel self-isolasie/kwarantyn kan toepas. Mense wat dit nie self kan doen nie, moet by instansies geplaas word wat wel aan gesondheidstandaarde voldoen en nie hul menseregte skend nie.
Om mense in ontoereikende geriewe te plaas, hulle soos gevangenes te behandel, hul medikasie te weier of om oneetbare voedsel aan hulle te verskaf, maak die deur oop dat die regering hom weer ‘n keer kan vasloop in die gereg net soos in die Zithabiseni-geval, ook in Mpumalanga, waar die hof die gerief gesluit het.
Die wyse hoe die Suid-Afrikaanse regering mense behandel wat gerepatrieer word, is skandalig en is ‘n bewys dat die regering geen gevoel het vir menselewens nie en enigiets sal doen om sy wil en mag op die mense van Suid-Afrika af te dwing.
Navrae: 060 556 4347