Tydens die afgelope begrotingsdebat van die stad van Johannesburg, het die VF Plus die ANC daarvan beskuldig dat die begroting teen minderheidsgroepe diskrimineer, sê Franco de Lange, VF Plus raadslid, Johannesburg metro.
De Lange het die raad daarop gewys dat ontwikkeling, veral behuising en werkskepping, ‘n eenrigtingstraat-benadering nastreef wat net swart armoede aanspreek.
Hy het raadslid Makubo, MMC van Finansies, gevra hoekom daar nie laekoste-huise vir bruin- en wit gemeenskappe gebou word nie en het ook verder genoem dat die VF Plus nou al twee jaar lank wag vir ‘n verslag om die demografiese verdeling van die “EPWP” werkskeppingsprojek te ontvang om te kan bepaal of wit of bruin jeugdiges enige voordeel uit die projek trek.
Die MMC het ook melding gemaak van die sterk belastingbasis van Johannesburg waarop de Lange hom daarop gewys het dat statistiek SA in 2014 bepaal het dat 75 persent van die mense wat Gauteng verlaat, van Europese afkoms is en dat hulle óf immigreer óf na die Kaapprovinsies verhuis en so ook hulle belastinggeld saam hulle neem. As gevolg hiervan gaan die ANC binnekort hul breë belastingbasis begin verloor en dit gaan al hoe moeiliker raak om die stad van Johannesburg se lenings terug te betaal.
Die VF Plus maak ook kapsie teen meeste van die nuwe munisipale belastings wat nogsteeds hoër as die inflasiekoers is en dat die tipe van verhogings die gemiddelde belastingbetaler net verder in finansiële moeilikheid gaan laat beland.
Die VF Plus het nie die begroting ondersteun nie as gevolg van die diskriminerende aard daarvan teenoor minderheidsgroepe in Johannesburg.
082 358 3882