fbpx
Vryheidsfront Plus

Verwagting van pres. Zuma se 2015-staatsrede

Die VF Plus sal graag wil hê dat president Zuma tydens die staatsrede soos ‘n staatshoof en nie soos die ANC-leier optree nie.

‘n Staatshoof tree op in belang van al Suid-Afrika se mense – nie net in belang van sekeres nie. Dit beteken dat hy die woorde “kom ons” moet gebruik om so al Suid-Afrika se mense op te roep om te help met die ekonomie en ander ernstige probleme. Hy moet nie, soos telkens in die verlede gebeur het, net as die leier van die ANC optree nie. By die vorige staatsrede was hy net ‘n ANC-leier wat die ANC se “goeie storie” met talle syfers en projekte in ons kele probeer afdruk. Die verskil tussen ‘n staatshoof en die leier van ‘n politieke party is dat ‘n staatshoof by geleenthede soos die staatsrede, uitstyg bo kleinlike politiek en propaganda vir sy politieke party. Ons kort voorstelle wat minderhede laat tuis voel en nie vervreem en onder druk laat voel soos die laaste tyd gebeur het na presidensiële uitsprake nie.

Suid-Afrika se belangrikste probleem tans is om die strompelende ekonomie weer aan die gang te kry. As die groeikoers styg sal werkloosheid aangespreek word, sal die staat se skuld verminder, behoort dit ‘n invloed op die hoë misdaadsyfer te hê en sal armoede en talle van ons ander probleme aangepak kan word.

Van hierdie “kom ons”-sinne wat die president behoort te gebruik is:

Kom ons werk almal saam om die buitelandse beleggers se vertroue in Suid-Afrika te herstel na die skokke wat beurtkrag en die piesang-republiek-optredes in die parlement veroorsaak het.

Kom ons dink nuut oor swart bemagtiging, regstellende aksie en ons arbeidswetgewing omdat hierdie maatreëls tans ekonomiese groei belemmer en nie slaag om die doelwitte te bereik waarvoor die maatreëls ingestel is nie. So het swart bemagtiging net ‘n klein deel van die bevolking bevoordeel sonder om algemene armoede aan te spreek. Op dieselfde wyse beskerm die arbeidswetgewing die kleiner getal Cosatu- en ander vakbondlede terwyl die grootste meerderheid werkloses, getalsgewys baie meer as die vakbondlede, daardeur werkloos gehou word. Om met maatreëls te volhard wat nie resultate bring nie, is kortsigtig.

Die staatsowerheid kan nie werk skep nie. Die staatsowerheid se taak is om dit moontlik en maklik te maak vir die privaatsektor om die ekonomie te laat groei. Die beste wat die staatsowerheid in hierdie verband kan doen is om die rompslomp in die staatsdiens uit te skakel en die Suid-Afrikaanse infrastruktuur in stand te hou en uit te brei. Hierdie regering het die grootste en beste infrastruktuur in Afrika in 1994 geërf. Helfte van alle teerpaaie van Afrika was in Suid-Afrika terwyl Suid-Afrika alleen amper net soveel krag opgewek het as die res van Afrika saam.

Om verskillende redes het hierdie infrastruktuur agteruitgegaan tot op die punt waar dit ekonomiese groei begin kniehalter. In die staatsrede soek ons voorstelle oor hoe Eskom weer die nodige elektriese krag aan Suid-Afrika kan voorsien. Die huidige langtermyn oplossings wat Eskom voorstel, is nie aanvaarbaar nie aangesien ons met ‘n onmiddellike krisis sit. Van die onmiddellike oplossings moet die benutting en integrering van private organisasies se kragopwekvermoë met Eskom s’n behels asook die terugbring van vorige kundiges om Eskom weer doeltreffend te maak.

Ons soek voorstelle oor hoe die staat uit sy groterwordende staatskuld posisie kan kom. Dit moet behels dat openbare entiteite soos SAL en Eskom nie elke keer met belastingbetalersgeld gered moet word nie. Daar moet eerder gekyk word hoe groter private inisiatief hierdie instansies kan red.

Ons kort van die president hoop vir die toekoms. Kom ons hou op om allerlei klein korttermyn ekonomiese plannetjies te probeer maak, want hulle beweeg en motiveer nie mense om die onmoontlike moontlik te maak en so Suid-Afrika se probleme op te los nie.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.