Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Verval in Matjhabeng kan nie meer weggesteek word

Die jongste krisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit, waar personeel en pasiënte van die Thusanong-distrikshospitaal in Odendaalsrus sonder stabiele elektrisiteit moes funksioneer, is deel van ‘n groter verval van dienslewering regoor die munisipaliteit.

Groot dele van Odendaalsrus, Hennenman, Virginia en ander dorpe, is die afgelope week deur voortdurende kragonderbrekings getref weens swak instandhouding van die kragnetwerk.

Die situasie het só ernstig geraak dat pasiënte weens ’n gebrek aan suurstof na ander hospitale oorgeplaas moes word.

Die kragkrisis het ook ’n direkte impak op watervoorsiening. Volgens Vaal Sentraal Water is watervoorsiening aan onder meer Welkom, Odendaalsrus, Hennenman, Phomolong, Ventersburg, Wesselsbron en Monakeng negatief geraak ná Eskom-kragonderbrekings by die De Erf-pompstasie. Sommige gebiede is tans sonder water, terwyl ander lae toevoer ervaar.

Die swaar reën oor die afgelope naweek het terselfdertyd die swak toestand van Matjhabeng se stormwater- en rioolinfrastruktuur verder blootgelê, met rioolprobleme wat in verskeie gebiede vererger het.

Op 28 April het die balju beslag gelê op ses verkeerspatrollievoertuie weens uitstaande skuld van sowat R350 000, dit terwyl Matjhabeng se totale skuldlas na raming sowat R16 miljard beloop.

Die feit dat Matjhabeng sedert November 2025 onder ‘n finansiële herstelplan is, het geen verbetering in dienslewering gebring nie. Inteendeel, inwoners beleef daagliks die gevolge van ’n munisipaliteit wat tegnies bankrot is en nie meer sy basiese verantwoordelikhede kan nakom nie.

Of die probleem nou elektrisiteit, water, riool of finansiële bestuur is, die kern van die krisis bly ANC-wanbestuur.

Die VF Plus glo dat streng finansiële dissipline, bevoegde bestuur en die prioritisering van basiese infrastruktuur noodsaaklik is om Matjhabeng se verval te keer en dienslewering te herstel.

Dit is beginsels waarvoor die party reeds lank pleit in plaaslike regering. Nooit weer mag die ANC toegelaat word om Matjhabeng te regeer nie.

Inwoners moet registreer en op 4 November vir die VF Plus stem vir beter en volhoubare dienslewering.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.