Die VF Plus het ernstige bedenkinge uitgespreek oor die versoek van die Tshwane-metro om nóg R1,5 miljard aan debiteure as ongemagtigde uitgawes af te skryf.
Die feit dat hierdie massiewe bedrag as “ongemagtig” voorgehou word, is ’n direkte belydenis dat daar nooit daarvoor begroot is nie.
Dit ontmasker die sogenaamde “befondsde begroting” waarop die burgemeester geroem het as ’n doelbewuste wanvoorstelling van die stad se ware finansiële toestand.
Indien hierdie miljarde rande met rekenkundige toertjies uit die finansiële verslae verwyder moet word om die boeke te laat klop, beteken dit dat die begroting nooit werklik befonds was nie.
Hierdie optrede van die regerende ANC/ActionSA/EFF-koalisie dui op growwe manipulering van die metro se begrotingsproses om ’n valse beeld van stabiliteit te skep.
Voorts staan die huidige invorderingskoers op slegs 82%, vergeleke met die veronderstelde 90% waarop die “befondsde begroting” gegrond is.
Die VF Plus het reeds ’n skriftelike vraag ingedien by die uitvoerende burgemeester, Nasiphi Moya om die waarheid agter die metro se debiteureboek, wat na bewering R13 miljard beloop, bloot te lê.
Uit die vraag probeer die VF Plus vasstel of die metro enigsins weet wat die totale randwaarde is van die rekeninge van inwoners wat tans onderworpe is aan formele dispute en wat die impak daarvan op die debiteureboek sal wees.
Indien die metro nie dié bedrag akkuraat kan aandui nie, beteken dit dat die sy gerapporteerde bates waarskynlik met miljarde rande oorskat is, wat neerkom op ’n fiskale lugspieëling.
Sonder vandag se versoek om afskrywing, het die metro die afgelope twaalf maande byna R6 miljard (25%) van sy skuldlas as fiktief of oninvorderbaar erken.
Die inwoners van Tshwane verdien ’n regering wat eerlik is oor sy finansies en korrekte rekeninge uitstuur, en nie ’n koalisie wat met finansiële manipulering probeer oorleef nie.
Inwoners in Tshwane kan op 4 November sake regstel en vir die VF Plus stem om deel te vorm van ‘n verantwoordelike regering wat nie die metro se boeke probeer manipuleer nie.


