Die jongste elektrisiteitsprysaansoek van die Ekurhuleni-metro aan die nasionale energiereguleerder (Nersa) het ’n afwyking van sowat R7 miljard in die berekeninge blootgelê.
Hierdie fout is nie ’n tegniese glips nie, maar ’n direkte gevolg van die ANC-beheerde metro se onvermoë om openbare finansies en kritieke infrastruktuur verantwoordelik te bestuur.
Die metro het in sy aansoek sy Eskomrekening vir grootmaat-elektrisiteit verkeerd bereken en die bedrag van R25,5 miljard tot R32,7 miljard opgeblaas.
Indien dit nie reggestel is nie, sou dit ’n tariefverhoging van meer as 50% regverdig het, in stede van die reeds hoë 19% wat inwoners en ondernemings moet dra.
Die fout is eers in April 2026 reggestel nadat belanghebbendes dit in openbare verhore uitgewys het
Só ’n fout wys dat begrotingsprosesse, finansiële kontroles en administratiewe bevoegdheid onder ANC-bestuur eenvoudig nie betroubaar is nie.
Inwoners en ondernemings verkeer reeds onder geweldige ekonomiese druk en kan nie verder benadeel word weens swak bestuur of foutiewe aannames nie.
Die VF Plus sal ’n uitgebreide strategie volg om vas te stel waar die afwyking sy oorsprong het en wat daaraan gedoen kan word. Formele vrae sal gerig word aan die Gautengse LUR vir finansies, Nkululeko Dunga, en die saak sal ook in die finansiële portefeuljekomitee en die raad aandag geniet.
Die metro moet dringend verduidelik hoe die afwyking ontstaan het, wie verantwoordelik was vir die voorbereiding en goedkeuring van die aansoek, en sorg dra dat geen onregverdige koste op inwoners afgewentel word nie.
Die VF Plus vra verder dat interne finansiële en tegniese verifikasieprosesse hersien word.
Deursigtigheid en verantwoordbaarheid is nie onderhandelbaar wanneer openbare geld en noodsaaklike dienste ter sprake is nie.
Op 4 November 2026 kry inwoners van Ekurhuleni die geleentheid om die ANC se wanbestuur te beëindig en vir die VF Plus te stem vir ’n administrasie wat met akkuraatheid, professionaliteit en integriteit optree.


