Die verslag oor die onluste in Julie verlede jaar in KwaZulu-Natal en Gauteng, bevestig wat die VF Plus toé daaroor gesê het, naamlik dat die intelligensiedienste nie hul werk gedoen het nie en vas aan die slaap gevang is.
Dit sluit alle intelligensiedienste in; die staatsveiligheidsagentskap (SVA), misdaadintelligensie asook Militêre Inligting (MI).
Dit kom daarop neer dat hierdie dienste toegelaat het dat daar ’n ernstige bedreiging ontstaan teen Suid-Afrika en sy mense. President Cyril Ramaphosa moet die volle verantwoordelikheid hiervoor neem.
Daar moet ook baie streng opgetree word teen die persone wat nie hul werk gedoen het in die aanloop tot die onluste nie en koppe moet rol.
Dit is duidelik dat die gevolge nou gesien is van faksiegevegte binne die ANC en teen hierdie agtergrond is die uitsprake van president Ramaphosa dat hy alles sal doen vir die ANC, baie kommerwekkend.
Die president van Suid-Afrika se eerste verantwoordelikheid is teenoor die land en sy mense.
Die swak verhouding tussen die minister van polisie, Bheki Cele en die nasionale kommissaris van polisie, genl. Kehla Sitole, word ook duidelik deur die gebeure weerspieël.
Dit is bekend dat dié twee nie om dieselfde vuur sit nie en eindelik is dit die mense van Suid-Afrika wat die prys daarvoor moet betaal, veral wat gewone misdaad aanbetref.
Hierdie situasie kan nie so voortduur nie en die president sal nou moet optree.