fbpx
Vryheidsfront Plus

Basiese Onderwys-Wysigingswetsontwerp: Belanghebbendes moet deelneem aan proses wat die portefeuljekomitee sal loods

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het vandag die hoogs omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (Bela) aan die betrokke portefeuljekomitee oorhandig en dit is belangrik dat die publiek kennis neem van die komende prosesse.

Dit nadat die departement self met belanghebbendes geraadpleeg het sedert die wetsontwerp in 2017 die eerste keer gepubliseer is.

Die portefeuljekomitee het nou die geleentheid om self 'n openbare deelnameproses te volg voordat die wetsontwerp na die onderskeie provinsiale wetgewers verwys word. Dit is belangrik dat alle belanghebbendes aan die prosesse deelneem.

Tans geld die Suid-Afrikaanse Skolewet wat in 1996 aanvaar is. Indien die grondige veranderings wat sedertdien op onderwysterrein ingetree het in ag geneem word, is 'n herskrywing van die wet verstaanbaar.

Ongelukkig neem die wet nie die ontploffing in inligtingstegnologie, veral op onderwysgebied, in ag nie. Dit is eerder daarop gemik om die selfstandigheid van openbare skole in te kort en die beweegruimte vir tuisonderrig en onafhanklike skole te verklein.

Vir die VF Plus is onderwys 'n gemeenskapsaak. Ouers en gemeenskappe behoort die keuse tussen verskillende onderwysmoontlikhede te hê, met inagneming van die skeidslyne tussen skole, virtuele skole en tuisonderrig wat besig is om te vervaag.

Die wetsontwerp wat tans dien, neem dit nie in ag nie en behandel die onderwyslandskap soos dit dalk dertig jaar gelede daaruit gesien het.

Almal met 'n mening oor die saak moet dit deeglik verwoord en die media dophou vir die tye en plekke waar openbare deelname sal plaasvind.

Die staat het altyd 'n neiging om onderwys te sentraliseer en onder sy mag te bring. Indien diegene met 'n ander siening dit nie berekend en met kundigheid teenstaan nie, is dit presies wat gaan gebeur.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.