Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit se werksaamhede word ernstig gekniehalter deur ‘n tekort aan voertuie.
Dié eenheid, wat al verskeie kere as die beste in die provinsie aangewys is, het van die begin van 2022 slegs twee voertuie om vyf dorpe te bedien.
Verlede week was daar geen voertuig beskikbaar om sake mee te gaan ondersoek nie weens herstelwerk wat dit moes ondergaan.
Die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtsweni-Tsipane, het verlede jaar in haar provinsiale openingsrede beloof om veral geweld teen kinders en vroue te beveg, maar tog het die eenheid wat dit die nodigste het, nie die nodige toerusting om dit te doen nie.
Die VF Plus het reeds in 2021 vrae oor die tekort aan polisievoertuie aan die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, gerig. Die vrae is nooit beantwoord nie.
Dit is moeilik om ná jare van leë beloftes, woorde en papierplanne, nie sinies te staan teenoor die ANC-regering se erns om daadwerklik op te tree teen geweld teen vroue en kinders nie.
Die VF Plus sal die saak ook opneem in die wetgewerkomitee vir gemeenskapsveiligheid en daarop aandring dat die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, kom verduidelik hoe sy die probleem gaan aanspreek.
Daar kan nie langer water getrap word terwyl die lys van slagoffers van hierdie soort geweldsmisdaad daagliks aangroei nie.