Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vermorste onderwysbegroting moet liefs gebruik word om skoolstelsel te verbeter

Die onderwysdepartement moet sy plig nakom en werkbare skole bou met die reuse begroting wat hy jaarliks ontvang, eerder as om ‘n las op reeds swaar belaste ouers te plaas om beter onderrig aan minder gegoede leerlinge te gee, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir basiese onderwys.

Adv. Alberts sê dit is ongelooflik dat ‘n departement wat die afgelope 20 jaar, jaar na jaar reuse bedrae van die begroting kry en hierdie jaar sowat 25% van die totale begroting, nou met ‘n situasie sit waar die Gautengse LUR vir onderwys volhard met sy planne om ryk en arm skole saam te smelt deur gedeelde beheerliggame.

Panyaza Lesufi beplan volgens ‘n berig in Beeld om reeds in Januarie aanstaande jaar met sy projek te begin.

Volgens adv. Alberts is onderwys in Suid-Afrika in ‘n haglike toestand met veral infrastruktuur wat by honderde skole in duie stort. Meer as ‘n duisend skole het nie eens lopende water nie.

“Onderwys het die laaste 20 jaar mildelik van die nasionale begroting ontvang. Vir hierdie jaar is R177.6 miljard aan dié departement toegewys. En tog is Lesufi se enigste oplossing vir die probleem om die sogenaamde ryk skole daarmee te belas om arm skole te help.

“Die meer gegoede skole word grootliks gedra deur duur skoolfondse wat reeds ‘n enorme las op ouers plaas. Nou word die ouers indirek dubbel belas deur te help om arm skole op te hef terwyl die ANC-regering geld wat hiervoor gebruik moet word, deur swak beleid en onbevoegdheid mors.

“Die regering wil alles wat nog werk afbreek en gelyk maak totdat daar eindelik niks gaan oorbly nie. Instede daarvan om goeie skole met rus te laat, arm skole te help en nuwe skole te bou met sy reuse begroting, word die beter en werkbare skole nou geteiken.

“Wat hier gebeur is ‘n verbreking van elke internasionale regsbeginsel oor minderhede en is volgens die VF Plus ongrondwetlik.

“Die VF Plus sal dit teenstaan en sal so gou doenlik met die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, en met Lesufi oor die aangeleentheid gesprek voer.

“Die gesprek met die minister sal gevoer word teen die agtergrond van haar reaksie in die begrotingsdebat van basiese onderwys waar sy belowe het dat Afrikaanse skole nie geteiken word of sal word nie, en dat moedertaalonderrig belangrik geag word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.