fbpx
Vryheidsfront Plus

‘n Samelewing word gemeet aan die wyse waarop hy sy vroue en kinders behandel

‘n Samelewing wat geweld teen vroue en kinders toelaat, is op ‘n glybaan waar enigiets eindelik toegelaat sal word, en statistiek van die staat oor hierdie aangeleentheid toon ongelukkig aan dat Suid-Afrika in hierdie verband reeds op geleende tyd leef, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vroue.

Adv. Alberts het vandag oor die hoë vlak van geweld en mishandeling van vroue en kinders gesê die vraag moenie wees waarom die statistiek so hoog is nie, maar waarom dit enigsins bestaan.

“Vroue en kinders moet gekoester en beskerm word en daar moet gevra word waarom dit gebeur en wat gedoen kan word om dit stop te sit.

“Die oorsake van hierdie tipe geweld en mishandeling is terselfdertyd eenvoudig en kompleks. Eenvoudig omdat die oortreders nie bedreig en bang voel om die dade te pleeg nie, en kompleks omdat die oortreder dikwels self die slagoffer van geweld was.

“Die eenvoudige oorsaak is te vinde in die gebrek aan behoorlike polisiëring deur beide die polisie en die gemeenskap wat daardie onsigbare tou van moraliteit kan versterk deur afkeur en vervolging. Die komplekse oorsaak is te vinde in die wyse en plek waar ons opgroei. In Suid-Afrika in sy geheel is die gebruik van geweld op soveel vlakke gelegitimeer.

“Voeg daarby die invloede van die media by wyse van onder meer die internet, films, televisie, daaglikse nuus en advertensies, die invloed van ouers wat dalk self met geweld in die huishouding opgegroei het, en die breër gemeenskap se wil om die reg in eie hande te neem weens ‘n gebrek aan behoorlike polisiëring, dan kan ‘n mens begin verstaan waar die probleme ontstaan.

“Hierdie bondige ontleding lê wel bloot dat ons as gemeenskap nog altyd ondermyn is deur een of ander vorm van boelie-gedrag. Die kenmerk van so ‘n boelie is dat hy of sy onbehoorlike invloed of mag oor ‘n ander persoon het. Dit kan selfs ‘n land se regering wees. Eers wanneer ons dit raaksien en besef kan die houvas van so ‘n boelie, en die kringloop van geweld, gebreek word.

“’n Goeie vertrekpunt tot ‘n oplossing in hierdie verband is om die kragte wat slagoffers kan beskerm, soos die polisie se kinderbeskermingseenheid, te versterk. Skep ‘n godsdienstige etos by skole om waardes soos respek aan te kweek en geestelike groei aanhelp en bemagtig gemeenskappe deur ‘n groter rol as waghond aan hulle toe te vertrou. Verwyder die remskoene vir ekonomiese groei en kweek ‘n gesonde en groeiende middelklas.

“Sulke stappe kan gesien word as ‘n beleggingspolis vir die toekoms. Daarsonder stap ons ‘n gevaarlike pad waar die Suid-Afrikaanse samelewing sal transformeer tot hel op aarde. Ongelukkig is dit reeds so vir baie vrouens en kinders in die land,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.