Foto met erkenning aan Netwerk24
Die VF Plus steun die gebruik van hernubare energie as ʼn manier om Suid-Afrika se energiekrisis aan te pak.
Ekurhuleni se plan om 40% van sy elektrisiteitsbehoeftes teen 2030 uit hernubare bronne te verkry, is ʼn goeie stap na minder Eskom-afhanklikheid.
Maar hierdie plan sal misluk as Ekurhuleni nie eers optree oor sy elektrisiteitsverliese van 11.9% nie. Dié verliese, veroorsaak deur onwettige aansluitings, diefstal en swak meterbestuur, kos inwoners en die metro R2.75 miljard per jaar.
Ekurhuleni wil ʼn 20 jaar-kontrak van R125 miljard met onafhanklike kragprodusente (OKP’s) onderteken, maar hierdie bedrag gaan waarskynlik oploop na meer as R151.7 miljard met inflasie.
Indien die kragverliese nie opgelos word nie, sal Ekurhuleni nóg meer geld verloor – sowat R54 miljard oor 20 jaar – wat inwoners se tariewe sal verhoog en dienslewering sal benadeel.
Die VF Plus se plan van aksie om die sukses van die hernubare energieplan te verseker, behels onder meer:
- Elektrisiteitsverliese moet tot onder 5% verminder in die eerste drie jaar van die kontrak.
- Kwartaalverslae moet aan die raad en publiek beskikbaar gestel word oor vordering met kragverliesvermindering.
- Slimmeters moet geïnstalleer word, onwettige aansluitings en diefstal moet voorkom word en ou infrastruktuur moet opgegradeer word.
- Inwoners moet betrek word en daar moet duidelik gekommunikeer word oor die koste en voordele van die projek.
Dit is belangrik dat Ekurhuleni die kragverliese uitskakel voordat hy nuwe groot projekte aanpak. So nie gaan inwoners duurder vir elektrisiteit betaal met min voordele.
Die VF Plus sal bly veg vir deursigtigheid en aanspreeklikheid om te verseker dat hierdie projek finansieel volhoubaar en voordelig vir almal is.


