Kragtoevoer na die Sonop-nedersetting by Brits is vandag om 12:30 herstel ná volgehoue druk van die VF Plus.
Dit volg nadat die VF Plus reeds op 7 November ʼn afvaardiging van die Sonop-gemeenskap gelei het in onderhandelings met Noordwes se departement van openbare werke en paaie.
Alhoewel daar tydens hierdie geleentheid ʼn onderneming van die departementshoof verkry is dat die kragtoevoer op 12 November herstel sou wees, het die departement nie sy woord gestand gedoen nie.
Sonop ressorteer onder Noordwes se departement van openbare werke en paaie en nie onder die Madibeng-plaaslike munisipaliteit nie.
Dit het die party genoop om met die bemiddeling van sy provinsiale wetgewerlid, mnr. Michal Groenewald, die Noordwes-premier, Lazarus Mokgosi, direk by die aangeleentheid te betrek. Dit was deurslaggewend in die uiteindelike oplossing van die kwessie.
Die VF Plus sal voortgaan om met die owerhede te beding om die voortslepende diensleweringskwessies in gemeenskappe soos Sonop volhoubaar op te los.


