Danksy volgehoue druk van die VF Plus is die storting van riool vanuit die Vaalwater-rioolskema in die Mogolrivier gestaak.
Dit kom nadat die eienaar van ’n vakansieoord op Vaalwater in die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit (Naboomspruit, Roedtan, Nylstroom, Alma, Vaalwater) die probleem in Augustus vanjaar onder die party se aandag gebring het.
By nadere ondersoek is gevind dat ‘n pomp by die rioolaanleg onklaar geraak het en daartoe gelei het dat die opgaardamme begin oorloop het. Die oortollige rioolwater moes uitgepomp word.
Dié rioolwater het in die Mogolrivier beland.
By navraag het die bestuurder van die munisipaliteit se waterafdeling, mnr. Thabang Selemela, die party verseker dat ’n nuwe pomp bestel sou word en dat die rioolwater “behandel is en veilig is vir mens en dier”.
Die eienaar van die oord was steeds ongelukkig omdat daar ‘n dik laag korrelrige slyk die wateroppervlak van die rivier bedek het en toeriste nie kon visvang nie.
Hierna het die Vaalwater Sakekamer onafhanklike toetse laat doen wat gevind het dat die water in die rivier wel besoedel en onveilig is.
Die party het weer druk toegepas en die munisipaliteit het ook onderneem om die bevindinge van die onafhanklike watertoetsing te ondersoek.
Daar kan nou bevestig word dat die nuwe pomp hierdie maand geïnstalleer en in werking gestel is.
Die party spreek graag sy dank uit teenoor die VF Plus se ondervoorsitter (Vaalwater-tak), mnr. Elardus Jacobsz, vir sy tyd en gereelde terugvoer rondom vordering met die saak op Vaalwater.


