Terwyl inwoners van Mogale City/Krugersdorp ongeduldig wonder waarom gras nog nie gesny word nie, waarom probleme met die munisipale rekeninge voortsleep en ander dienslewering nog nie op dreef is nie, is die veelpartyregering druk besig om aanslag na aanslag van die vorige ANC-regering om die munisipaliteit op sy knieë te bring, af te weer, sê raadslid Amanda de Lange van die VF Plus. Die VF Plus vorm deel van die veelpartyregering in Mogale City.
De Lange sê die publiek word vriendelik gevra om geduldig te wees en steeds probleme by hul raadslede aan te meld en dat daar wel aandag aan die versoeke en klagtes gegee word.
“Munisipale amptenare in van die diensleweringsdepartmente het onlangs 'n sitstaking gehad en ander is traag om diens aan die publiek te lewer in opstand teen die nuwe veelpartyregering. Meeste van die interne probleme wat ondervind word, is met die aansporing van ANC-kaders en moeilikheidmakers.
“Die opsetlike sabotasie van 'n munisipaliteit wat reeds deur die vorige plaaslike ANC-regering op sy knieë gebring is, is niks anders nie as misdadig. Die provinsiale regering het besoek gebring aan Mogale City en kon geen ongerymdhede met enige prosedure vind nie.
“Die kantoor van die CoGTA (Cooperative Governance and Traditional Affairs) van Gauteng het steeds geen daadwerklike pogings aangewend om die normale werkinge van die munisipaliteit te herstel nie.
“Dit wil eerder voorkom of ANC-regeringsamptenare besig is met onderduimse pogings om Mogale City onder administrasie te plaas wat die enigste manier is waarop die ANC weer mag oor die dorp se bestuur kan kry,” sê De Lange.
Sy sê die veelpartyregering bestaan uit die VF Plus, DA en IVP wat in 'n nasionale koalisie-ooreenkoms staan. Die EFF het hulle stemme by die koalisievennote gevoeg en daardeur die ANC onttroon tydens die afgelope verkiesing in Augustus 2016 deur 'n meerderheid stemme.
“Dit is belangrik vir kiesers om te verstaan dat elke party steeds sy eie identiteit het en sy kiesers dien soos voorheen. Daar is slegs 'n samewerkende ooreenkoms tussen die opposisiepartye wat die bestuur van die munisipaliteit aanbetref. Geeneen van die partye staan dus ondergeskik aan 'n ander nie.
“Ons missie is wel om die onregmatighede, korrupsie en wanbestuur van die verlede uit te wis en seker te maak belastinggeld word behoorlik en oordeelkundig aangewend.
“Die politieke bestuurskomitee wat uit lede van die vier partye bestaan, beraadslaag op 'n gereelde basis en daar word onder die huidige uitdagende omstandige gepoog om die munisipaliteit so goed moontlik te bestuur.
“Die LUR vir plaaslike bestuur het Mogale City Dinsdag besoek en het die hoop uitgespreek dat daar nou daadwerklike ingryping van die Gautengse Provinsie gaan wees om die munisipaliteit op sy voete te kry sodat die veelpartyregering reg kan laat geskied aan sy mandaat teenoor inwoners.
Kontak : 071 604 9498