Die geweld en oproer onder lede van die gemeenskap van Booysens in Pretoria wat die afgelope Vrydag losgebars het, is die gevolg van die deksel wat nou weer eens afskiet na jare se probleme rondom die betrokke plakkerskamp in Bremerstraat.
Die VF Plus veg al sedert 2010 teen die plakkerskamp in die gebied en het al verskeie petisies geloods teen die destydse ANC-stadsraad wat onder leiding van Gwen Ramakgopa was.
Die VF Plus se standpunt is en was nog al die jare dat die Wesmoot nie ‘n skrootwerf is waar mense afgelaai kan word wat nie langer in ander gemeenskappe kan woon nie, weens welke redes ook al, en dat die betrokke gebied nie oor die nodige infrastruktuur beskik om nog verdere inwoners te akkommodeer nie.
Die skole in dié gebied is oorlopens toe vol, die paaie kan nie meer al die verkeer dra nie en ‘n gesondheidsprobleem het reeds ontstaan omrede daar nie voldoende water en sanitasie vir die plakkers beskikbaar is nie.
Misdaad het sedert die oprigting van die plakkerskampe in die gemeenskap, die hoogte ingeskiet en die gemeenskap het al gebuk gegaan onder ‘n vlaag moorde sedert die 2010 tydperk wat tans op nagenoeg sewentien te staan kom.
Die VF Plus waarsku al sedert 2010 dat inwoners van die gemeenskap keelvol is vir mense wat op hul afgedwing word wat geen positiewe uitwerking op die gemeenskap het nie.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het in reaksie op die naweek se jongste gebeure gesê dat die deksel nou van die drukkende kookpot afgeskiet het. Hy sê hierdie situasie gaan hom herhaal totdat die munisipaliteit en die provinsiale regering besef dat die Wesmoot se inwoners nie langer gaan stilsit en rondgeklap word soos wat die afgelope sewe jaar gebeur het nie.
“Die inwoners van Booysens is keelvol vir die misdaad in dié gebied asook die feit dat die weste van die stad ‘n skrootwerf geword het. Mense het eiendom hier wat hul betaal met hul swaar verdiende geld en hul belastinggeld word misbruik in ander gebiede van die stad.
“Inwoners gaan nie langer stilsit en sommer net aanvaar dat mense afgelaai word nie. Die gemeenskap sukkel om kop bo water te hou want niemand wil meer in die gebied belê of nuwe besighede begin nie wat aanleiding daartoe gegee het dat die gebied se ekonomie reeds meer as tien jaar terug tot stilstand gekom het.
“Die VF Plus sal as lid van die koalisie-regering in die Tshwane-metro sorg dat hierdie probleem opgelos word.
“Die VF Plus se lys van aksies teen die betrokke probleem strek al sedert 2010 waar petisies geloods was, waar ek myself voor die vorige burgemeester se huis ‘n plakkerskamp gaan opslaan het om die petisie aan haar te oorhandig, ’n gesprek wat ek met pres. Jacob Zuma in die gebied gevoer het in 2010, die VF Plus op 30 September 2011 ‘n dringende mosie voor die Tshwane-metro gebring het om die plakkers te verwyder en ‘n klag wat ons in 2016 teen die ANC-leierskap in Pretoria by die SAPD gelê het toe geweld ook in die gebied losgebars het,” sê Van Staden.
1. Wykskomiteelid verwelkom plakkerverwydering uit Wesmoot: 1 Feb. 2010
2. VF Plus loods petisie: 5 Feb. 2010
3. Gemeenskap ondersteun petisie in duisende: 8 Feb. 2010
4. Pta.-burgemeester kry plakker voor ampswoning: 19 Feb. 2010
5. Burgemeester neem petisie in ontvangs: 22 Feb. 2010
6. VF Plus oorhandig brief aan Pres. Zuma: 30 Mrt. 2010
7. Humanitêre krisis dreig in die Wesmoot: 17 Sept. 2011
8. Gemeenskap in opstand oor Schubartpark-verskuiwings: 28 Sept. 2011
9. Wesmoot-gemeenskap ruk op nadat VF+ se dringende mosie verwerp word: 30 Sept. 2011
10. Brand vernietig plakkerskamp in Bremerstraat, Pretoria: 25 Junie 2012
11. ANC moet verantwoordelikheid aanvaar vir opstande in weste van Pretoria: 9 Maart 2016.
Tel: 0840154722 of 011-498 5477 / 012-772 4410
epos: Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za