Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Uyghurs laat lig skyn op menseregteskendings in China

(Parlementsdebat: Suid-Afrika se internasionale verhoudingsbeleid ten opsigte van selfbeskikking asook gruweldade wat wêreldwyd gepleeg word teen minderheidsgroepe soos die Uyghurs)

Gruweldade en die skending van minderheidsregte klink straks heel onwaarskynlik in die hedendaagse samelewing. Tóg is dit ʼn harde en erkende realiteit.

Daar is steeds state wat sistemiese menseregtevergrype pleeg en waar minderheidsgroepe hul reg tot selfbeskikking ontsê word.

ʼn Voorbeeld hiervan is die Uyghurs, ʼn minderheid in China wat die afgelope week in Suid-Afrika was om eerstehands oor hul lot te getuig. Danksy die VF Plus se bemiddeling, is hul saak vandag in ʼn parlementsdebat aangehoor.

Dit was verblydend dat die meeste partye tydens die debat gelyk gegee het dat ‘n groep se reg tot selfbeskikking fundamenteel is.

Die VF Plus en ander partye het ‘n beroep op die regering gedoen om sy internasionale beleid konsekwent toe te pas en om alle volkere se reg tot selfbeskikking te erken.

Die regering is versoek om sy posisie in Brics te gebruik om China aan te moedig om stappe te neem om hierdie menseregtevergrype stop te sit en die Uyghurs se reg tot selfbeskikking te erken.

Die Uyghurs se omstandighede vertel van:

‘n Regering wat ʼn etniese groep dwing om hul taal te ontken. Die onderdrukking van godsdiens, kultuur en oortuigings. Aanhouding sonder reg of rede. Politieke indoktrinasiekampe en marteling. Wetgewing oor godsdiensbeoefening. Dwangarbeid. Gedwonge sterilisering. ʼn Verbod op vryheid van beweging, uitdrukking, mening en politieke assosiasie. Etniese suiwering en selfs volksmoord.

State wat só optree, kan met reg die skurke van die wêreld genoem word. En lande wat hul oë hiervan wegdraai, is ewe skuldig en is in werklikheid medepligtig.

Wanneer dié argeloosheid boonop die gevolg is van handelsbetrekkinge en ekonomiese winste, is die aanspreeklikheid groter. Suid-Afrika se diensbaarheid aan China is geen geheim nie.

Suid-Afrika se klag by die Wêreldhof teen Israel oor die lot van die Palestyne wek die skyn dat die regering ʼn kampvegter is vir menseregte. Daarom is dit belangrik dat die land se internasionale beleid, gegrond op die kernwaardes in die Grondwet, konsekwent toegepas word en om selfs ʼn vriend daaroor te kritiseer.

Die lot van die Uyghurs, wat in Oos-Turkestan, ‘n streek in die noordwestelike deel van die China gevestig is, is nie onbekend nie.

Die kantoor van die Verenigde Nasies (VN) se hoë kommissaris vir menseregte het sy beoordeling van die Uyghurs se situasie reeds gepubliseer en het daarin die gruweldade bevestig.

Die VN se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie het ook ‘n dringende aksiebesluit oor die aangeleentheid aanvaar.

State wat ondertekenaars is van die VN se Volksmoordkonvensie – soos Suid-Afrika – het ‘n morele én wetlike verpligting om ʼn einde te bring aan China se vergrype teen die Uyghurs.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.