Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Unisa en NSFAS: Twee teenslae vir hoër onderwys op een dag

Dit is dalk toevallig dat die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, aangekondig het hy wil die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) onder administrasie plaas op dieselfde dag as Outa se aankondiging dat hy strafregtelike klagte teen die uitvoerende hoof van die Nasionale Studentefinansieringskema (NSFAS) ingedien het.

Nogtans is dit ʼn slegte teken vir almal wat hul posisie deur naskoolse onderrig wil verbeter.

Die aankondiging van Nzimande volg op die werk van ʼn ministeriële taakspan onder dr. Vincent Maphai wat reeds in 2021 verdoemende bevindings rakende wanbestuur by Unisa gemaak het.

Daarop is ʼn onafhanklike assessor aangestel om Unisa te ondersoek, in ʼn stap wat wetlik vereis word voordat die minister ʼn universiteit onder administrasie kan plaas.

Die assessor, prof. Themba Mosia, se verslag is op 26 Mei 2023 in die staatskoerant gepubliseer. Dit het gedui op die agteruitgang van stelsels, die aanstelling van personeel wat nie vir hul pos geskik is nie en verwarring tussen die funksies van die universiteit se raad en bestuur wat ingetree het.

Unisa is vir talle mense die beste manier om hul kwalifikasievlak te verbeter terwyl hulle werk. Met meer as vierhonderdduisend studente is die rol wat hierdie afstandsuniversiteit speel, deurslaggewend.

Terselfdertyd het inligtingstegnologie oor die afgelope paar jaar ander universiteite in staat gestel om dieselfde diens te lewer. Unisa se plek in die mark is dus nie so toonaangewend as wat dit was nie.

NSFAS maak dit ook vir arm mense en mense uit die werkersklas moontlik om naskoolse opleiding te ontvang. Ná twee jaar onder administrasie, het waarnemers gehoop op beter vooruitsigte vir dié beursskema met ʼn begroting van ongeveer R60 miljard.

Outa se klag teen die uitvoerende hoof van NSFAS, mnr. Andile Nongogo, spruit uit die tyd toe hy aan die stuur van die dienste Seta, Sseta was.

Hy het tenders afgeteken waarvolgens die Seta buitensporige bedrae vir bemarkingsgoedere betaal het.

In sy reaksie het NSFAS die versekering gegee dat die aantygings niks met sy werk by die beursskema te doen het nie. Dit is inderdaad so, maar is ʼn skrale troos indien ʼn mens in ag neem dat NSFAS soveel groter as die Seta is en dat dit meer ruimte vir buitensporige tenders skep.

Die ANC-regering vestig graag die aandag op sy maatskaplike besteding. Dit help egter min as geld wat vir minderbevoorregtes geleenthede moes skep, in die verkeerde hande beland.

Studente verdien beter. Dit is tyd dat ʼn nuwe regering in 2024 verkies word, wat die geld wat vir naskoolse onderwys en opleiding bedoel is, daarheen sal kanaliseer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.