Die VF Plus verwelkom die jongste stap om oortydbetalings aan werknemers van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) wat bo die R261 000 salarisdrempel per jaar verdien, te beperk.
Dit is ʼn noodsaaklike besluit wat lank reeds geneem moes word.
Dié besluit volg op die beleidsrigting van die minister van indiensneming en arbeid, Nomakhosazana Meth, wat vroeër vanjaar die oortyddrempel in lyn met die Wet op Basiese Diensvoorwaardes gebring het.
Dit is geen geheim dat oortyd in die NMBM oor die jare wyd misbruik is nie.
Daar is talle gevalle waar personeel doelbewus oor naweke gewerk het eerder as gedurende die week net om oortydbetaling te ontvang. Só het die metro se oortydbetaling maklik tot R2 miljoen per maand beloop – ’n onvolhoubare las op belastingbetalers.
Departemente sukkel ook reeds vir jare met honderde vakante poste.
In stede daarvan om dié poste te vul, is druk eenvoudig op bestaande personeel verhoog wat oortyd soos die enigste oplossing laat lyk het.
Tog is daar ʼn duidelike gebrek aan kontrole en verantwoordbaarheid, aangesien afdelingshoofde blindelings oortyd afgeteken het sonder behoorlike monitering.
Die VF Plus is daarvan oortuig dat die metro nie langer kan toelaat dat dienslewering as ’n onderhandelingsmiddel gebruik word nie.
Inwoners van die metro word daagliks gekonfronteer met swak dienslewering en sal verstaan dat streng maatreëls oor oortyd en bonusse nodig is om volhoubaarheid en eerlike besteding van belastinggeld te verseker.
Die VF Plus stel voor dat drie dringende stappe gevolg moet word:
Eerstens moet die vakante poste so gou moontlik gevul word, tweedens moet interne kontrolemaatreëls ingestel word om oortyd streng te monitor, en derdens moet afdelingshoofde aanspreeklik gehou word vir elke sent wat onder hul toesig goedgekeur word.
Munisipale werkers kan nie langer hul leefstyl op ongekontroleerde oortyd bou en die publiek dreig met swak diens indien hul ekstra verdienste afgesny word nie.
Die VF Plus glo dit is tyd dat die kraantjie toegedraai word en dat die metro se belastinggeld gebruik word om volhoubare dienslewering te herstel.


