Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Minister van handel en nywerheid mis geleentheid om weg te doen met mislukte beleid

Die minister van handel, nywerheid en mededinging, Parks Tau, het ʼn ideale geleentheid gemis om weg te doen met die ANC se mislukte sosialistiese beleide en dit te vervang met ʼn billike vryemarkstelsel deur nuwe krisispakkette en kunsmatige regulasies bekend te stel.

Dié mislukte beleide het direk aanleiding gegee tot die huidige handelskrisis met die VSA.

Die regering wil tydelike vrystelling van normale mededingingswette gee om uitvoere te bevorder, maar met die voorwaarde dat klein- tot mediumgroot ondernemings wat aan uitgebreide swart ekonomiese bemagtigingsvereistes voldoen ingesluit moet word en dat die mededingingskommissie se goedkeuring nodig is.

Volgens die minister bestaan die plan uit die sogenaamde volgende kerndoelwitte:

  1. Voortgesette gesprekke met die VSA om tariewe te verlaag.
  2. Diversifikasie van uitvoere na alternatiewe markte.
  3. ’n Ekonomiese noodpakket vir kwesbare maatskappye en werkers.
  4. Handelsverdedigingsmaatreëls teen storting en invoerplofgolwe.
  5. Vraagkant-ingrypings om plaaslike vraag te versterk.

Die regering stel ook ʼn uitvoertoonbank bekend en beplan regulasies wat maatskappye tydelik vrystel van sekere bepalings van die Mededingingswet om samewerking oor uitvoere toe te laat.

Hierdie regulasies sal egter slegs vir vyf jaar geld, waarna dit heroorweeg kan word.

Belanghebbendes kan tot 2 September 2025 nog insette oor die regulasies lewer.

Die VF Plus beskou hierdie sogenaamde oplossings as pleisters vir ʼn gebreekte stelsel.

Die nuwe handelstariewe van 30% wat die VSA op Suid-Afrikaanse uitvoere ingestel het, is die direkte gevolg van die ANC se jarelange swak sosialistiese beleidsrigtings, korrupsie en wanbestuur.

Terwyl die ANC homself in ʼn hoek vasgeverf het, wys die VF Plus daarop dat Suid-Afrika nou republikeinse oplossing nodig het gegrond op vryemarkbeginsels, selfstandigheid en die bevordering van ʼn gesonde sake-omgewing.
Suid-Afrika moet nou wegbeweeg van staatsgedrewe sosialisme en misbruikte swart ekonomiese bemagtiging (SEB) na ʼn stelsel wat alle ondernemings gelyke geleenthede bied, terwyl nuwe markte in Afrika, Europa en Asië aggressief ontwikkel word.

Energie-onafhanklikheid, voedselsekerheid en industriële vermoëns moet versterk word om buitelandse druk te weerstaan. Korrupsie, kaderontplooiing en wanbesteding het die ekonomie verwoes.

Openbare geld moet deursigtig en verantwoordbaar bestuur word. Plaaslike ekonomieë moet van grondvlak opgebou word sodat gemeenskappe en kleiner ondernemings sonder buitensporige staatsinmenging kan ontwikkel.

Die VF Plus onderneem om sy rol as stabiliseerder van plaaslike owerhede uit te brei na afloop van die 2026-plaaslike regeringsverkiesing.

Die ANC het Suid-Afrika sedert 1994 in die onvolhoubare posisie geplaas waar die land telkens gedwing word om krisispakkette aan te kondig om buitelandse druk te verlig.

’n Republikeinse ekonomiese raamwerk, soos waarvoor die VF Plus staan, bou volhoubare welvaart, plaaslike selfstandigheid en internasionale geloofwaardigheid.

Die ANC se mislukkings dwing Suid-Afrika om te bedel vir beter handelsvoorwaardes. Dit is tyd dat Suid-Afrika sy soewereiniteit en ekonomiese selfstandigheid herstel deur ’n republikeinse, vryemark-benadering te volg.

Die VF Plus is die laaste bastion in die Suid-Afrikaanse partypolitieke opset wat republikeinse waardes bevorder.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.