Die VF Plus beskou die aankondiging van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se burgemeesterskomiteelid vir finansies, Hassan Mako, dat die munisipaliteit gaan aansoek doen om nog R2 miljard van sy Eskom-skuld af te skryf, as politieke teater met die oog op die 2026-plaaslike regeringsverkiesing.
Volgens Mako skuld Emfuleni Eskom net R5 miljard ná sy eerste suksesvolle aansoek by die nasionale tesourie (NT) om R2 miljard van sy skuld aan Eskom af te skryf.
Tog toon die jongste staat van Eskom aan dat die eerste R2 miljard nog nie afgeskryf is nie en die munisipaliteit Eskom meer as R9 miljard skuld. (Staat aangeheg)
Mako se sommetjies maak dus nie sin nie en neem ook nie in berekening dat Eskom steeds rente vorder op die uitstaande bedrag nie.
Die NT het met sy Eskom-skuldverligtingsprogram, wat in 2023 ingestel is, Emfuleni se eerste aansoek goedgekeur met streng voorwaardes soos verbeterde invordering, die herstel van kraginfrastruktuur en deursigtigheid.
Intussen moet inwoners en ondernemings hul kragrekeninge direk aan Eskom betaal. Dit is dus te betwyfel of Emfuleni se tweede aansoek suksesvol sal wees aangesien die munisipaliteit nie aan die vereiste kriteria voldoen het of kan voldoen nie.
Die VF Plus beskou hierdie aankondiging, asook die R660 miljoen wat aan Rand Water betaal is om sy beslaglegging op Emfuleni se lopende rekening op te hef, as ʼn poging om inwoners ʼn rat voor die oë te draai.
Tans verkry die munisipaliteit slegs ʼn inkomste uit vullisverwydering en erfbelasting en sonder alternatiewe inkomstebronne sal Emfuleni nooit finansieel die mas opkom nie.
Die VF Plus staan saam met Emfuleni se inwoners wat veilige en betroubare dienste verdien, maar dit sal net gebeur as die ANC by die stembus verwerp word.


