Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Merafong-burgemeester prys haar eie stert terwyl rubberkoeëls vlieg

Terwyl die burgemeester van die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela), Nozuko Best, in haar 2025-stadsrede groot gewag gemaak het van die verbetering in dienslewering, moes die polisie rubberkoeëls gebruik om betogende gemeenskapslede voor die Carletonville-burgersentrum te verwilder.

Die VF Plus vermoed die gemoedere sou nog hoër geloop het indien hulle bewus was van die feit dat die stadsrede ʼn allemintige R3,5 miljoen gekos het.

Hierdie geld kon eerder aangewend gewees het om die munisipaliteit se skuld van meer as R2,8 miljard aan Eskom en Rand Water te verminder, wat steeds elke maand groei.

Die Gautengse wetgewerkomitee van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het boonop die afgelope week sy kommer uitgespreek oor Merafong se verslegtende finansiële situasie wat inwoners blootstel aan langdurige diensonderbrekings.

Infrastruktuur in die Carletonville-middestad bly agteruitgaan terwyl die munisipaliteit se eie prestasiebeoordeling toon dat hy slegs 34% van sy diensleweringsteikens in die afgelope finansiële jaar bereik het.

Terwyl die burgemeester dus drome droom oor sonplase en die bevordering van toerisme, kan die munisipaliteit nie eens die basiese goed doen soos om stukkende straatligte te vervang of slaggate te herstel nie.

Haar toespraak is opnuut ʼn bewys dat sy en die ANC totaal uit voeling is met wat op voetsoolvlak aangaan.

Al manier hoe om Merafong te red, is om van die ANC by die stembus ontslae te raak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.