Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni-inwoners kry reuse diensterekeninge vir kragverbruik

Inwoners van die Ekurhuleni-metro het vandeesmaand skokkende diensterekeninge ontvang weens die metro se versuim om vir maande die werklike kragverbruik op vorige rekeningstate aan te dui. Slegs geskatte lesings is aangedui.

Dit is onregverdig dat verbruikers nou onverwags groot agterstallige rekeninge ontvang wat hulle eenvoudig nie kan bekostig nie.

Luidens ʼn finansiële verslag wat aan die raad voorgelê is, is slegs R21,9 miljard van die begrote R26,1 miljard se kraginkomste ingevorder, ʼn tekort van R4,13 miljard. Volgens die metro gaan hy probeer om so gou moontlik R725 miljoen van die uitstaande bedrag te verhaal.

Die VF Plus vermoed dat hierdie nuwe rekeninge wat werklike kragverbruik aandui, die metro se manier is om die bedrag in te vorder.

Verhoogde kragtariewe het op 1 Julie in werking getree wat daartoe aanleiding gee dat verbruikers nie net die regstel van geskatte rekeninge moet absorbeer nie, maar ook sowat ʼn 11,32% kragverhoging.

Indien die metro se amptenare hul werk gedoen het soos hulle moes, sou inwoners nie vir maande verkeerde bedrae vir kragverbruik betaal het nie.

Die party is van mening dat die nuwe rekeninge oor ʼn tydperk van drie maande versprei moet word om die las op die verbruikers te verminder.

Die verslag dui ook aan dat onwettige kragverbindings en sabotasie kragverliese van miljoene meebring, terwyl die metro in gebreke bly om dié soort misdaad daadwerklik te bekamp.

Die party het die metro gewaarsku om nie hierdie onwettige kragverbruik ook op die verbruiker se brood te smeer nie.

Die VF Plus versoek die volgende van die metro:

• Volledige deursigtigheid oor die presiese omvang van terugfakturering en die huishoudings wat geraak word.
• Stel ‘n onmiddellike aksieplan in werking om nie-tegniese verliese (onwettige verbindings en sabotasie) te bekamp.
• ’n Onafhanklike oudit oor die betroubaarheid van die metro se meters en lesingsprosesse.
• Hou op om verbruikers te straf vir wanbestuur en hou amptenare aanspreeklik.

Die VF Plus moedig inwoners aan om:

• Onmiddellik hul rekeninge te betwis indien buitensporige agterstallige bedrae verskyn.
• Skriftelike klagtes in te dien by die munisipaliteit en ’n verwysingsnommer te eis.
• Bewyse van vorige betalings of lesings te bewaar as beskerming teen onregmatige invorderings.
• Die kwessie ook aan die stadombudsman en die nasionale energiereguleerder (Nersa) te rapporteer indien daar geen oplossing is nie.

Die VF Plus sal voortgaan om hierdie soort wanpraktyke uit te wys en sal toesien dat die gemeenskap se regte beskerm word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.