fbpx
Vryheidsfront Plus

Tyd het aangebreek dat opgetree word teen Malema oor haatspraak

Die tyd het aangebreek dat daar opgetree word teen die EFF-leier, Julius Malema, oor sy opruiende uitsprake en die VF Plus het vandag opnuut ʼn klag hieroor by die polisie en die menseregtekommissie (MRK) ingedien.

Videomateriaal wat die VF Plus aan die MRK beskikbaar gestel het, wys hoe Malema oor die naweek weer die lied “Kill the Boer, Kill the Farmer” sing en sê “Shoot to kill” (skiet om dood te maak).

Mnr. Malema se aanhitsing van geweld teen boere ongeag hul ras en wit mense in die algemeen is goed gedokumenteer en die VF Plus en ander het oor die jare al verskeie klagte teen hom ingedien.

Die MRK het al in 2000 ná ʼn klag van die VF Plus bevind dat die liedjie “Kill the Boer ” haatspraak is, maar die EFF-leier se uitsprake tot nou toe het straffeloos gebly.

Sy herhaling daarvan gister in die FNB-stadion ter viering van die EFF se tiende verjaarsdag het net weer sy minagting vir die gereg en die MRK onderstreep.

Dit laat die vraag ontstaan waarom die MRK huiwerig is om teen mnr. Malema op te tree aangesien dié liggaam in die verlede al kragdadig opgetree het teen ander persone wat hulle aan haatspraak skuldig gemaak het.

By die VF Plus bestaan geen twyfel nie dat opruiende uitsprake en liede mense aanhits tot geweld en moord. Daar kan ook geen twyfel wees nie dat die “boer” waarna in die lied verwys word, op wittes gemik is nie.

ʼn Polisieverslag van 2003 het al bevind dat uitsprake van politici mense aanhits tot geweld en dat dit een van die oorsake vir plaasaanvalle en -moorde is.

In die huidige politieke klimaat en met misdaad en moordsyfers so hoog soos dit is, kan hierdie soort uitsprake nie langer geregverdig of toegelaat word as vryheid van spraak nie.

Suid-Afrika se Grondwet maak dit duidelik dat aanhitsing tot geweld nie beskerm word deur die reg op vryheid van uitdrukking nie. Dit is ook ʼn oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste

Die VF Plus het verlede jaar ook daarop gewys dat ʼn stortvloed plaasaanvalle en -moorde gevolg het op ʼn beslissing van die Gelykheidshof (op 25 Augustus) dat “Kill the boer” nie haatspraak is nie.

Malema is nie verhewe bo die wet nie en sy uitsprake is tot nadeel van almal in die land aangesien dit rassehaat aanblaas.

Die VF Plus sal aanhou om aan te dring op optrede totdat Malema se mond hieroor gesnoer word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.