Belasting is die lewensbloed van ‘n regering. Wanneer hierdie bloed skielik verminder of gekontamineer raak, ontstaan ‘n kritieke situasie wat die vraag laat ontstaan hoe lank ‘n land op hierdie wyse kan oorleef.
Suid-Afrika bevind hom weens openbare weerstand op dun ys rakende die volhoubaarheid van belasting-invordering. Geen wet sal enige daadwerklike effek daarop hê nie.
Die belastinglas op Suid-Afrikaners het reeds die Laffer-kurwe verbygesteek. Dit beteken die land se belastingbetalers is nie meer gewillig om belasting te betaal nie en is daarom gedurig op soek na wyses om belasting wettiglik te vermy. Wat met die Gautengse e-tolstelsel gebeur het, gebeur nou met belasting op nasionale vlak.
Die land het ‘n punt bereik waar sy belastingbasis krimp weens belastingvermyding en 'n krimpende ekonomie. Die hoofredes hiervoor kan soos volg uiteengesit word:
• Dienslewering is in 'n terminale afwaartse spiraal. Waarom belasting betaal indien dit nie reg aangewend word nie? Beskikbare geld word byvoorbeeld nie aangewend om voldoende skole in Gauteng te bou nie, terwyl die behoefte aan skole maandeliks groei.
• Die regering word gebruik as werkverskaffings-agentskap wat werkverskaffing in die privaatsektor oorskry en met die privaatsektor meeding in die arbeidsmark. Waarom belasting betaal as die regering die geld mors op ‘n onnodige opgeblase werksmag?
• Swak beleid gegrond op verouderde Marxistiese denke vernietig die ekonomie, werksgeleenthede en sodoende die belastingbasis. Onteiening sonder vergoeding is 'n kernbom wat in fases geaktiveer word wat uiteindelik alles sal vernietig. Kapitaaluitvloei uit Suid-Afrika is gelykstaande aan die situasie in die jare tagtig toe die land onder hewige sanksies gebuk gegaan het. In realiteit het die ANC in onderdanigheid aan sy nuwe meester, die EFF, eiesoortige sanksies veroorsaak wat neerkom op ‘n eie doelskop ten koste van die land en sy mense. In 'n tyd waarin Kuba sy grondwet verander om privaat eiendom te erken, probeer die ANC-regering sy bes om dit te vernietig. Die onvermydelike wegkalwing van die belastingbasis en sosiale samehorigheid is ‘n onvermydelike gevolg hiervan.
Die VF Plus ag dit ook sy plig om die regering te waarsku teen die effek wat Transnet se pensioen-hofsaak op die land sal hê indien daar nie spoedig geskik word met die pensioenarisse nie.
Die eis beloop reeds meer as R100 miljard en wanneer die hof in die guns van die pensioenarisse beslis, sal Transnet onmiddellik afgegradeer word tot rommelstatus met ‘n domino-effek op ander staatsentiteite en uiteindelik die staat self wat tot rommelstatus sal daal.
Deur die saak nie nou op ‘n billike basis te skik nie, sal die regering ons land finaal oor die afgrond stoot. Daarna sal geen belastingbasis meer bestaan as reddingsboei nie. Skik nou en skik billik met die pensioenarisse.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216