President Cyril Ramaphosa het vandag ‘n gulde geleentheid verspeel om sy kabinet verder te verklein en van ‘n ongewenste en onbevoegde minister soos Bathabile Dlamini ontslae te raak.
Van die verskeie veranderinge wat pres. Ramaphosa kon aanbring, sou wees om omgewingsake met water en sanitasie te kombineer. Slegs die ministeries van telekommunikasie en poswese, en dié van kommunikasie, is nou saamgevoeg.
Die VF Plus is van mening dat pres. Ramaphosa met verdere samesmeltings van ministeries aan die publiek kon wys dat hy erns het met sy belofte om die kabinet te verklein. Hy het hierdie geleentheid nou verspeel.
Die geleentheid om die kabinet te skommel is aan die president gebied deur die afsterwe van die vorige minister van omgewingsake, Edna Molewa, en die bedanking van Malusi Gigaba as minister van binnelandse sake. Dit het ‘n kabinetskommeling genoodsaak.
Me. Stella Ndabeni-Abrahams, vorige adjunk-minister van telekommunikasie en poswese, is die nuwe minister van die gekombineerde telekommunikasie en poswese, asook kommunikasie. Dit is die enigste geval waar twee vorige ministeries saamgesmelt het.
Die feit dat die president nie bereid was om verdere veranderinge aan te bring nie, kan toegeskryf word aan die verdeeldheid in die ANC en die feit dat Ramaphosa steeds nie vanuit ‘n posisie van mag kan optree nie.
In die ander skuiwe is Siyabonga Cwele (voorheen telekommunikasie en poswese) nou minister van binnelandse sake in die plek van Gigaba en Nomvula Mokonyane (voorheen kommunikasie) is nou minister van omgewingsake.
Die president hoop dalk om met ‘n versterkte hand te kan optree na aanstaande jaar se verkiesing, maar die moontlikheid is nie uitgesluit nie dat die posisie van die ANC en dan ook die president verder kan verswak na die verkiesing, en dan sal die land en die belastingbetaler nog ‘n onbepaalde tyd die las van ‘n oorgrote kabinet moet dra.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216