Ná ‘n mediaverklaring vroeër vandeesweek waarin die VF Plus sterk kritiek uitgespreek het teen Discovery se plan om wittes van ‘n aandeleskema uit te sluit, het senior bestuurslui van dié maatskappy met die VF Plus in gesprek getree in ‘n poging om ‘n werkbare, alternatiewe plan te vind.
Die gesprek is vandag verder gevoer en Discovery het nou ook onderneem om die skerp verhoging in die Discovery Health Medical Scheme (DHMS) se Keycare Plus-plan ook deel van die gesprek te maak.
Luidens mediaberigte vandag heers daar groot ongelukkigheid onder lede van die skema, wat baie bejaardes en pensioenarisse insluit, oor die premieverhoging van sowat 47% vanaf aanstaande jaar.
Dié buitensporige verhoging, veral vir ‘n skema wat ‘n groot persentasie pensioenarisse as lede het, is onaanvaarbaar hoog en talle lede sal dit bloot nie kan bekostig nie. Dit tesame, met die groot openbare weerstand teen Discovery se plan om wittes van hul nuwe bank se aandeleskema uit te sluit, kan die maatskappy ‘n ernstige knou toedien.
Die VF Plus is tevrede met erns en goeie voorneme waarmee Discovery sy gesprek oor die aangeleentheid benader, en sal saam met die maatskappy werk om ‘n oplossing te vind tot voordeel van al sy kliënte.
Die VF Plus se siening is dat dit wesenlik ‘n goeie idee is om ‘n nuwe bank te stig aangesien dit gesonde kompetisie in die bankwese sal aanhelp. Die party se boodskap aan Discovery is nogtans dat hy nie moet vergeet wie sy eerste kliënte was nie en wie die maatskappy gehelp het om ‘n finansiële reus te word.
Discovery het vandag kliënte van alle rasse en agtergronde. Al hierdie mense is belangrik en die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om met sinvolle gesprekvoering by te dra om ‘n wen-wen-situasie vir al die betrokkenes te skep.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216