Die VF Plus in Limpopo hou swak polisiëring en die regering verantwoordelik vir die tweede aanval binne twee maande op ‘n boer van Mokopane (Potgietersrus).
Skaars twee maande gelede het die VF Plus se LPW en provinsiale leier, Marcelle Maritz, mnr. Bert Kotze besoek na hy aangeval is op sy plaas. Daar word vermoed dieselfde booswigte was betrokke by die tweede aanval laat gistermiddag.
Die polisie in die provinsie kan nie langer skuil agter die toepassing van die Covid-19-regulasies vir die powere polisiëring van die provinsie se landelike gebiede nie. Die polisie se fokus moet verskuif van die konfiskering van sigarette en alkohol in die provinsie na die prioritisering van die veiligheid van inwoners van landelike gebiede.
Misdaad op die platteland raak beide landbouers en hul werkers. Elke boer is belangrik vir voedselsekerheid in die land en die landboubedryf is dikwels die ekonomiese hartklop en grootste werkverskaffer van plattelandse dorpe.
Die VF Plus doen weereens ‘n beroep op inwoners van landelike gebiede om hul eie sekuriteitsmaatreëls op te skerp en by hul buurtwagte, plaaswagte of gemeenskappolisiëringsforums aan te sluit. Dit was nog altyd die party se standpunt dat mense hulself binne die raamwerk van die wet mag verdedig teen misdadigers.
Die VF Plus bedank die Heritage Protection Group (HPG) en plaaslike buurtwagte vir hul flinke reaksie en bystand.
Navrae: 066 024 4623