(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir verdediging)
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het sy ware kleure en kaliber gewys met sy optrede tydens die huidige Covid-19-pandemie, en hierdie standaard het ‘n naam gekry, naamlik Colins Khosa.
Hierby kan gevoeg word die optrede van die weermaghoof, genl. Solly Shoke, wat die SANW in oneer gebring het sonder dat daar enige optrede teen hom was.
President Cyril Ramaphosa het enkele maande gelede ingevolge die Grondwet gebruik gemaak van sy magte om lede van die weermag te ontplooi om te help met die bestryding van Covid-19. Op 25 Maart het hy eers 2 820 soldate ontplooi en later eindelik 76 000, feitlik die volle weermag teen ‘n koste van sowat R6 miljard. Nou is dit weer verminder.
Dit is onverstaanbaar dat, toe die verspreiding van die virus nie hoog was nie, feitlik die volle weermag ontplooi is. Noudat die pandemie sy piek in Suid-Afrika begin bereik, is dit afgeskaal na 20 000 lede. Die vraag moet gevra word of dit sinvol en geregverdig was om aanvanklik die volle weermag te laat ontplooi.
Wanneer gekyk word na die optrede van die weermaghoof, genl. Shoke, moet gevra word of ‘n mens enige ander optrede van die soldate te wagte kon wees. Kan daar van gewone weermaglede verwag word om korrek op tee tree wanneer sy hoof op nasionale TV soldate in onwelvoeglike taal toespreek oor hoe hulle moet optree teenoor die publiek? (Skop en d….).
Die VF Plus het hierdie uitlatings na pres. Ramaphosa verwys met videomateriaal, ook videomateriaal waar soldate die uitlatings herhaal en uitvoer. Dit is ‘n skande en ‘n klad op die naam van die SANW. Genl. Shoke moes dadelik bedank het.
Nogtans het nie die president of die minister, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, ‘n woord hieroor gerep nie en daar was geen optrede nie.
Nog ‘n reuse fout was toe pres. Ramaphosa ‘n weermag-uniform gedra het met die ontplooiing van die weermag in die stryd teen Covid-19. Die president is wel die opperbevelhebber van die gewapende magte in die land, maar hy word ook simbolies gesien as die leier van al die mense van Suid-Afrika wat die balans moet skep tussen die gewone samelewing en die gewapende magte.
President Ramaphosa en minister Mapisa-Nqakula het die mense van Suid-Afrika in die steek gelaat deur toe te laat dat orde en dissipline ondermyn word. Dit is onaanvaarbaar.
Net so is die SANW se aangepaste begroting van sowat R52,4 miljard vir 2020/21 totaal ontoereikend. Die VF Plus wys reeds die laaste vyftien jaar daarop dat die begroting nie voldoende is om te keer dat die weermag verder agteruitgaan nie.
Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216