fbpx
Vryheidsfront Plus

Gesondheidstelsel wys regering gee nie om vir die publiek

(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir departement van gesondheid)

‘n Regering wat vir sy mense omgee, is een wat na almal se behoeftes omsien en dit beskerm, wat goeie en volhoubare onderwys en gesondheidsdienste lewer, infrastruktuur in stand hou, optree teen bedrog en korrupsie, ongeag ras of kleur.

Die ANC-regering faal skouspelagtig hiermee. Daar bestaan nie iets soos volhoubare gesondheidsorg aan sy burgers nie en die openbare gesondheidstelsel, wat voorheen reeds uiters gebrekkig was, het nou met die Covid-19-pandemie in duie gestort.

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) word nou as die groot reddingsboei voorgehou en president Cyril Ramaphosa het dit duidelik gemaak dat dit ‘n werklikheid is. Dit nieteenstaande die feit dat die regering met alles wat hy doen misluk en die publiek met rede bang is vir openbare hospitale en -klinieke.

In hierdie stadium raak dit ook duidelik dat die staat se gesondheidsdienste steeds nie gereed is vir die Covid-19-pandemie nie, nieteenstaande die uitgereikte inperking op vlakke 4 en 5.

Die regering moet wakker skrik en besef dat die sinnelose inperkingsregulasies, bedrog, korrupsie en sy onvermoë om mediese dienste te lewer, die land se ekonomie nou tot stilstand ruk.

Die regering het veroorsaak dat die fiskus sowat R30 miljard verloor het weens die verbod op sigarette alhoewel daar nie wetenskaplik bewys kan word dat dit bydra tot Covid-19-ongevalle nie. Die verlies weens die drankverbod beloop reeds R11 miljard.

Hoeveel hospitale en klinieke kon hiermee gebou word? Hoeveel bykomende dokters en verpleegsters kon aangestel word? Hoeveel beddens, persoonlike beskermende toerusting en suurstof kon aangekoop word?

Tog herinner die Oos-Kaap se gesondheidsdienste aan ‘n oorlogsone. Daar word geskiet op
gesondheidswerkers wat aandring op beskermende drag, nuttelose planne wat op niks uitloop nie word voorgelê en geld vir ambulanse word gemors op onbruikbare motorfietse.

In stede daarvan om die gesondheidsdienste dringend reg te ruk, het die regering nou maar besluit om eerder sy geld en tyd te gebruik om duisende grafte te grawe wat sekerlik ‘n aanduiding is van die regering se eie besef oor hoe klaaglik hy misluk het.

Teen hierdie agtergrond het die VF Plus nie veel hoop dat veel van die R34 miljard wat vir die departement begroot is, sinvol bestee gaan word nie. Die oorgrote meerderheid van die geld sal verdwyn in die bodemlose punt van ANC-onbevoegdheid, -bedrog en -korrupsie.

Navrae: 060 556 4347

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.