Die VF Plus vind dit onaanvaarbaar dat die ANC-regering in Gauteng steeds in die truspieël bly staar terwyl daar tydens die Covid-19-krisis meer as ooit tevore behoorlike strategiese beplanning vir die toekoms moet plaasvind.
Daar word gepraat oor die skep van 'n inklusiewe ekonomie terwyl daar van plan is om op grond van ras te diskrimineer wat ekonomiese deelname betref. Hierdie feite het weer duidelik sigbaar geword tydens die voorlegging van die Gautengse Covid-19-aansuiweringsbegroting vandag deur die LUR van finansies, Nomantu Nkomo-Ralehoko.
Besigheidshulp word geoormerk vir die armste groepe terwyl die klein- medium- en middelgrootte ondernemings van die middelklas 'n enorme bydra lewer tot werkskepping, veral vir arm swart huishoudings. Dit is ekonomiese selfmoord deur nie hulp aan alle ondernemings toe te staan nie. Die woord inklusief in hierdie verband word dus 'n nuwe Orwelliaanse betekenis gegee wat gereduseer word tot kode vir swart hulp alleenlik.
Nkomo-Ralehoko het in haar toespraak 'n groot gewag gemaak van die oorgeërfde probleme van die verlede waarvan die verdelingslyne weereens skerp toegelig is weens Covid-19. Sy het egter geensins daarop ag geslaan dat die ANC alreeds vir 26 jaar in beheer is van Suid-Afrika asook Gauteng nie, en dat onder die leierskap van die ANC die fiskus straffeloos bankrot geplunder is en die staatsdiens tot in die afgrond getransformeer is.
Die LUR het haar nie haar eens verwerdig om enige verantwoordelikheid op te neem vir die mense wat in die verlede gesterf het onder toesig van die ANC nie, soos in die gevalle van Life Esidimeni en Hoërskool Driehoek.
Daar sal waarskynlik nog gevalle van sterftes openbaar word weens die ANC se sentralisering en swak verspreiding van voedselhulp. In wese wat 'n mens hier waarneem is 'n tipe psigopatie van 'n selfgeregtigde ANC, terwyl die party strompel van een menseregte vergryp na 'n ander.
Die LUR het 'n baie kommerwekkende stelling gemaak dat sy lank tyd gehad het om die situasie te bedink. Sy kom dan tot die insig dat die sosio-ekonomiese paradigma wat die ANC geërf, godsdienstig gevolg en aangepas het, gelei het tot die hoogte van die ondenkbare krisis wat nou bestaan.
Verder noem die LUR dat die sosio-ekonomiese stelsel en die stelsel se voorafgaande bloudruk (template) moet verander. Die VF Plus vind die woorde uiters kommerwekkend want dit kan net daarop dui dat die ANC dink die sogenaamde markgerigte beleid wat hulle tot dusver gevolg het, die oorsaak is van die huidige krisis en armoede en dat dit moet verander.
Die implikasie is dat Gauteng en die res van Suid-Afrika dalk voor die deur staan van 'n kommunistiese ingryp wat deur die ANC afgedwing gaan word. Dit sou egter nie verbaas nie aangesien die ANC se nasionale demokratiese rewolusie daarop gerig is om 'n sosialistiese (lees kommunistiese) staat te skep.
Hieruit kan net afgelei word dat die ANC Suid-Afrika voor 'n geweldige keuse gaan plaas: naamlik ekonomiese ineenstorting en verspreiding van armoede onder almal behalwe dié wat regeer of die skep van 'n markgerigte ekonomie met genoeg vryheid om werkskepping te laat gedy. Die enigste wyse om laasgenoemde pad te neem vir 'n beter toekoms, is om die ANC in 2021 en 2024 by die stembus te verslaan.
Die VF Plus sal die voorgelegde begroting in besonderhede bestudeer en enige kommunistiese en rassistiese aspekte daarvan ontbloot en met alle mag teenstaan.
Navrae: 082 391 3117