fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus besorg oor misbruik van privaat eiendom vir inligtingsnetwerke

Die VF Plus is besorg oor regulasies van die departement van kommunikasie en digitale tegnologie wat netwerke die reg gee om infrastruktuur op enige privaat en openbare eiendom op te rig.

Ingevolge die regulasies sal eienaars van privaat eiendom in meeste gevalle verbied word om huurkostes van netwerke wat 5 G-infrastruktuur op eiendom wil oprig, te hef.

Die VF Plus het in die gekose komitee vir openbare ondernemings en kommunikasie in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aan minister Stella Ndabeni-Abrahams gevra of die regulasies enigsins die reg van eienaars, wat reeds munisipale belasting betaal, in ag neem terwyl hulle in meeste gevalle nie betaling van netwerke sal mag eis nie.

Die minister het aangedui dat die regulasies in oorleg met die minister van samewerkende regering en tradisionele sake opgestel is.

Volgens die departement mag daar net betaling geëis word wanneer infrastruktuur indringend is. Die netwerk moet ook, ingevolge die regulasie, toegang tot die eiendom hê. Die departement kon nie ‘n aanduiding gee van wat hulle as indringend ag nie.

Die publiek sal nou in die proses van openbare deelname hul insette kan lewer. Die VF Plus moedig eienaars en organisasies aan om deel te neem en binne dertig dae hul beswaar aan die departement te rig.

Insette kan aan die volgende e-posadres gestuur word: rapid@dtps.gov.za.

Breëband-spektrum word al meer belangrik in Suid-Afrika waar digitale migrasie na die vierde industriële revolusie krities gaan wees.

Die VF Plus verwelkom pogings om Suid-Afrika beter te verbind, maar dit kan nie ten koste van privaateiendomsregte wees nie.

Navrae: 076 629 6219

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.