(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir justisie en grondwetlike ontwikkeling)
Die VF Plus wil die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola daaraan herinner dat dié departement veronderstel is om die Grondwet van Suid-Afrika en die oppergesag van die reg te handhaaf en te beskerm, veral ook wat die ondersoeke en vervolging van staatskaping en korrupsie betref.
Die aansuiweringsbegroting van R21,9 miljard, is R416 miljoen minder as die oorspronklike R22,4 miljard toegeken aan die departement en gaan ongetwyfeld die vermoë van die departement verder nadelig beïnvloed om sy grondwetlike mandaat te vervul.
Die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkingsregulasies het onafwendbaar ook ‘n invloed gehad op die departement se werkverrigtinge.
Alhoewel die howe oop was regdeur die inperkingstyd, was aanvanklik slegs noodsaaklike hofdienste beskikbaar en die meerderheid dienskategorieë gesluit en ontoegangklik.
Die geleidelike heraktivering van hierdie dienskategorieë benadeel Suid-Afrikaners se toegang tot regsprosesse en het reuse agterstande op hofrolle tot gevolg.
Die VF Plus verwelkom ‘n risiko-aangepaste plan dat onderbrekings in hofprosesse opgelos word in korter tydperke, asook die herprioritisering van hofrolle en die moontlikheid van verlengde hofure.
Die groot verlies in werksgeleentheid hoofsaaklik vanweë die regering se irrasionele inperkingsregulasies, gaan toenemend druk op Suid-Afrikaners se ekonomiese-, maatskaplike- en gesondheidswelsyn plaas.
Wetstoepassingsagentskappe en howe gaan toenemend onder druk verkeer terwyl misdaadvlakke styg. Die VF Plus verwelkom daarom die herprioritisering van die beskikbare begroting om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te versterk.
Die selektiewe vrylating van bepaalde kategorieë veroordeelde misdadigers plaas hul doodgewoon terug op straat en veroorsaak ‘n bose misdaad-kringloop.
Die departement moet ook ‘n toeganklike, regverdige en koste-effektiewe administrasie van geregtigheid in die belang van ‘n veiliger en volhoubare Suid-Afrika verseker.
Die wyse waarop die regering die Covid-19-pandemie tot nou bestuur het, verswak die kans op gesonde regspleging.
Navrae: 082 466 3786 / 062 391 1804