fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-regering se mislukking moedig belastingweerhouding aan

(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir Nasionale Tesourie)

Die minister van finansies, Titi Mboweni, het die VF Plus onlangs skerp aangeval omdat die party volgens hom belastingweerhouding gepropageer het. Dit is nie korrek nie.

Die waarheid is dat die ANC-regering dit self doen deur volgehoue korrupsie, deur sukkelende munisipaliteite met swak of geen dienslewering nie en die feit dat die regering en Nasionale Tesourie toelaat dat dit gebeur, ongeag wetgewing wat dit moet voorkom.

Dit word gedoen met minagting vir belastingbetalers wie se swaarverdiende belastinggeld in die proses vermors word en die publiek het daarom rede om te vra of dit onbepaald so kan voortgaan.

Suid-Afrika se Grondwet bepaal dat Nasionale Tesourie sekere verpligtinge het. Hy moet deursigtigheid en beheer oor alle regeringsuitgawes verseker en hy moet sorg dra dat dit afgedwing word vir ekonomiese groei en om seker te maak staatsgeld word oordeelkundige bestee.

‘n Eerlike oorsig van die afgelope jare, toon egter dat Nasionale Tesourie nie suksesvol was in die uitvoering van hierdie mandaat en in sy oorsigrol nie.

‘n Bewys hiervan is te vinde in die bevindings van die ouditeur-generaal (OG) op alle vlakke van regering betreffende die uitvoering van wetgewing wat die besteding van staatsgeld rig. Dit blyk ook uit die onderbesteding op plaaslike regeringsvlak, veral wat infrastruktuur aanbetref.

Die enigste afleiding hieruit is dat Nasionale Tesourie faal in die uitvoering van sy mandaat, soos geïllustreer word deur die feit dat R3 miljard nou nodig is om ‘n sukkelende Landbank van ondergang te red.

Nog ‘n voorbeeld is die groot aantal munisipaliteite met onbefondsde begrotings, in sommige gevalle herhaaldelik. Dit is in die mandaat van Nasionale Tesourie om beheer oor besteding op hierdie vlak uit te oefen.

Suid-Afrika is finansieel in die moeilikheid. Tesourie moet toesien dat daar waarde vir staatsbesteding is en om korrupsie en wanbesteding hok te slaan.

Navrae: 082 674 6670

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.