Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Twee wysigingsontwerpe in energiesektor uit vir openbare deelname – noodsaaklike opdaterings

Wysigings word tans aan die Kernreguleringswet en die Energiereguleringswet voorgestel en geleenthede tot openbare deelname word in die media geadverteer.

Die kernbedryf het ‘n klein aantal rolspelers, maar foute in dié bedryf kan langtermyngevolge hê. Daarom word beste praktyke internasionaal neergelê met die doel om voordele op mediese- en energieterreine te behou, maar ook veiligheid te verseker.

Die wysigingswetsontwerp versterk die magte van die reguleerder en die VF Plus ondersteun dit.

Die Wysigingswetsontwerp op Energieregulering bring ook noodsaaklike wysigings aan, maar beloof om meer omstrede te wees. Die EFF en ander linkse groepe is sterk gekant teen die vryer energiemark wat hierdeur geskep word.

Om die voorgestelde wysigings te begryp, moet ʼn mens in gedagte hou dat die bestaande wet ‘n enkele landwye monopolie in opwekking en verspreiding van elektrisiteit veronderstel. Dit het intussen verander.

Wêreldwyd word enkele, reuse kraginstallasies toenemend deur kleiner kommersiële- en huishoudelike aanlegte vervang.

Opwekking word gedesentraliseer en hernubare krag word opgewek op plekke waar tevore min krag gebruik is. Dit skep uitdagings vir verspreidingsnetwerke.

In Suid-Afrika gaan hierdie verskuiwing gepaard met die ineenstorting van goeie bestuur by Eskom. Die werklikheid is dat Eskom sy opwekkingsmonopolie verloor en wetgewing moet daarby aanpas.

Krag moet van talle kleiner voorsieners versprei en gesinchroniseer word. Tegniese vereistes en ingewikkelde verhoudings tussen produsente en verbruikers moet bemiddel word.

Die gevolg is die verdeling van Eskom se opwekking en verspreiding in afsonderlike staatsondernemings, sowel as meer omvattende regulering wat die nasionale energiereguleerder, Nersa, moet toepas.

In hierdie geval word letterlik duisende rolspelers geraak in ‘n bedryf waarvan die tegnologie vinnig ontwikkel. Regulering moet dus aanpasbaar wees.

Die VF Plus ondersteun hierdie wetsontwerp. Rolspelers wat elke dag met installasies en kragverhandeling besig is, kan besonderhede van die wetsontwerp die beste beoordeel.

Sulke mense word versoek om die wysigingswetsontwerp te bestudeer en tot openbare deelname by te dra. Dit is die stadium waarop wetgewing nog die maklikste verbeter kan word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.