Die VF Plus het dringend die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elis Mawela, versoek om die Carletonville-polisiekantoor van meer mannekrag en patrollievoertuie te voorsien om misdaad te help bekamp.
Die versoek volg op die dood van mnr. Jaco Blaauw (45) van uitbreiding 5, Carletonville, toe ses gewapende mans hom aangeval en sy vierwiel-motorfiets geroof het.
Blaauw, ʼn sakeman in die dorp, is van agter in die rug geskiet en op die toneel oorlede.
Hy was saam met sy gesin besig om een van sy kinders se verjaarsdae te vier toe hy geluide buite sy huis gehoor het en ondersoek gaan instel het.
Sedert Januarie vanjaar is 12 mense in uitbreiding 5 vermoor. Daar was ook 20 inbrake, waarvan 8 in een straat, en 7 verkragtings aangemeld.
Die VF Plus se raadslid in Merafong-plaaslike munisipaliteit, Ben van der Berg, het ʼn Junie vanjaar toestemming van die munisipaliteit ontvang om ʼn plantasie uitheemse bome op die grens van uitbreiding 5 te verwyder. Die bos word deur onwettige myners (zama-zamas) bewoon.
Van der Berg het begin om die bome te verwyder, maar moes die werksaamhede stop nadat ʼn inwoner gekla het oor uile wat in die bome woon.
Die VF Plus sal gedurende die week ook die stasiebevelvoerder besoek om vas te stel watter besondere uitdagings hulle ervaar om behoorlike polisiëring in die gebied toe te pas.
Die VF Plus het reeds verskeie oproepe van inwoners in Carletonville ontvang wat daarop aandring dat die polisie meer sigbaar in Carletonville se uitbreiding 5 moet wees.
Die polisie moet omsien na die veiligheid van die plaaslike inwoners en daar moet daadwerklik teenoor misdadigers opgetree word.