Die Tswaiing-plaaslike munisipaliteit wat Delareyville, Ottosdal en Sannieshof bedien, is die jongste slagoffer van die ANC se wanbestuur en korrupsie op plaaslike regeringsvlak.
Kontrakteurs het hofbevele bekom om op die munisipaliteit se roerende bates beslag te lê vir uitstaande skuld vir dienste gelewer.
Die howe het beveel dat die munisipaliteit se roerende bates op 11 April 2021 per openbare veiling verkoop moet word.
Hierdie bates van miljoene rande sluit onder meer in trokke, trekkers, bakkies en kantoortoerusting soos 26 rekenaars, fotostaatmasjiene en meubels.
Hierdie beslagleggings is die resultaat van ‘n ANC-beheerde munisipaliteit wat oor jare gekenmerk is deur wanbestuur, korrupsie en die ineenstorting van basiese dienslewering.
Die gepaardgaande verval in infrastruktuur het die plaaslike ekonomie tot so ‘n mate laat kwyn dat bloot ‘n skadu van die eens welvarende dorpe oor is.
Dit is ‘n skande dat die ANC-burgemeester, Lydia Malwane, haar bestuurskomitee en munisipale bestuur straffeloos kon voortgaan om die munisipaliteit ten gronde te bestuur sodat dit tans op die rand van bankrotskap staan.
Die VF Plus sal daarop aandring dat die stand van sake behoorlik ondersoek word om te verseker dat skuldige ampsdraers en amptenare aanspreeklik gehou word.
Plaaslike gemeenskappe gaan nie meer net toekyk hoe hul dorpe geplunder word deur diegene wat hulself wil verryk ten koste van inwoners nie.
Inwoners sal hul stem laat geld in die komende plaaslike regeringsverkiesing om te verseker dat die ANC se korrupsie en die plundering van munisipaliteite stopgesit word.
Navrae: 084 404 5746