Die koalisie-regering van die Tshwane-metroraad, waarvan die VF Plus deel is, sal in die volgende finansiële jaar fokus op die instandhouding en uitbreiding van elektrisiteit-, water-, riool- en padnetwerke.
Tydens die Tshwane-metro se stadsrede is die volgende tienpuntplan bekendgestel wat die raamwerk vir die volgende vyf jaar sal vorm.
1. Prioritisering van die kragnetwerk en waterinfrastruktuur.
2. Streng finansiële bestuur en toesig.
3. 'n Sakevriendelike stad wat indiensneming en ekonomiese groei bevorder.
4. Verbetering van stadsveiligheid, sekuriteit en nooddienste.
5. Handhawing van 'n skoon en beskermde natuurlike omgewing.
6. Instandhouding en uitbreiding van padinfrastruktuur en openbare vervoer.
7. 'n Omgee-stad wat die kwesbares ondersteun en sosiale verligting bied.
8. Modernisering en digitalisering van stadsprosesse.
9. Professionele stadsadministrasie wat aanspreeklik en deursigtig is.
10. Die skep van 'n gesonde en lewendige stad.
Die plan is gegrond op die ses koalisievennote se onderskeie manifeste.
Een van die grootste struikelblokke van die bedryfsbegroting is die besteding aan personeel en uitgekontrakteerde uitgawes. Dit is ver bo die norm en daarom sal daar gefokus moet word op die herstrukturering van die administrasie.
Die VF Plus se benadering van waarde vir geld vir dienste in elke buurt sal nagestreef word.
Daar is reeds ooreengekom om in die volgende begroting ‘n benadering van inkomste versus uitgawes op wyksvlak of minstens op streeksvlak te handhaaf.
Daar moet verseker word dat inwoners gehalte dienste ontvang waarvoor hulle betaal.
Die VF Plus is ten gunste van doeltreffende dienslewering en ondersteun vanjaar se stadsrede-tema, 'data gedrewe dienslewering met optimalisering van moderne tegnologie'.