Die VF Plus het vandag in ‘n skrywe aan die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit se burgemeester, Tokkie Swanepoel en die speaker, Butane Ben Tlhabadira, 'n dringende gesprek versoek oor die Waterberg-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens.
Die party het versoek dat die bevoegdheid van brandweerpersoneel ook bespreek word.
Thabazimbi-munisipaliteit is afhanklik van die Waterberg-distriksmunisipaliteit vir sy brandweerdienste.
Die VF Plus het die versoek gerig na aanleiding van ‘n brand in die vroeë oggendure Donderdag by ‘n inwoners se huis op die Marekele-pad in Thabazimbi waar die plaaslike gemeenskap self moes inspring om die brand te blus.
Die brandskade aan die huis kon waarskynlik minder gewees het indien die brandweer betyds opgedaag het en daar genoeg opgeleide personeel ontplooi is.
Volgens gemeenskapslede het die brandweer twee ure laat opgedaag met slegs twee brandweerpersoneellede wat na bewering nie die brandweertoerusting effektief kon gebruik nie.
Die VF Plus dring ook daarop aan dat daar opgetree word teen die brandweerpersoneel wat na bewering versuim het om spoedig te reageer en nie die toerusting kon gebruik nie.
Dit is onaanvaarbaar dat onbevoegde personeel aangestel word in ‘n diens waar hul optrede letterlik die verskil tussen lewe en dood kan beteken.
Dit bevestig opnuut die VF Plus se standpunt dat distriksmunisipaliteite faal en nie die diens lewer wat hulle wetlik verplig is om te doen nie.
Die VF Plus is van mening dat distriksmunisipaliteite afgeskaf moet word en dat besluite oor diensverskaffing nader aan gemeenskappe gebring moet word.