Die jongste krisis in die Tshwane-metro, waar openbare skole se krag afgesny word weens agterstallige eiendomsbelasting, het ’n direkte en verwoestende uitwerking op leerders en onderwysers.
Hierdie optrede is roekeloos en onmenslik, aangesien skole nie self verantwoordelik is vir die betaling van eiendomsbelasting nie. Daardie verantwoordelikheid berus by die departement van onderwys, wat die finansiële verpligtinge namens skole moet nakom.
Die afsny-aksie het reeds die Laerskool Wierdapark geraak en dit is duidelik dat dieselfde lot meer skole in Pretoria kan tref.
’n Soortgelyke situasie het verlede jaar in Ekurhuleni afgespeel, waar talle skole se krag afgesny is, maar deur die VF Plus se ingryping kon dit herstel word.
Die herhaling van hierdie scenario wys op ’n patroon van swak koördinering en ’n gebrek aan verantwoordelikheid tussen die metro en die provinsiale regering.
Die ironie is dat die Tshwane-metro, waarin die ANC ’n groot rol speel, sy eie partyvennote in die provinsiale regering minag deur nie eers met hulle te skakel om die agterstande by skole uit te wis nie.
Hierdie gekruisde lyne binne die ANC lei tot chaos en ondermyn die regte van leerders.
Die VF Plus het onmiddellik in verbinding getree met die Gautengse departement van onderwys en die LUR, Lebogang Maile, om die krisis te help oplos.
Die party sal alles in sy vermoë doen om te sorg dat die krag by die Laerskool Wierdapark en ander skole herstel word en dat die departement sy verpligting nakom deur agterstallige eiendomsbelasting te vereffen.


