Die VF Plus het die Gautengse LUR vir plaaslike regering, mnr. Jacob Mamabolo, gevra om dringend in te gryp nadat die onderburgemeester van die Tshwane-metro, mnr. Eugene Modise, weens ernstige ongerymdhede net ‘n boete gelykstaande aan twee maande se salaris opgelê is.
Dit kom nadat die regerende ANC/ActionSA/EFF-koalisie self erken het dat Modise skuldig bevind is daaraan dat sy onderneming, Triotic Protection Services, finansiële voordeel getrek het uit ’n munisipale sekuriteitskontrak.
In ‘n skrywe aan Mamabolo noem die VF Plus dat hierdie sogenaamde dissiplinêre maatreël bepalings van die Wet op Munisipale Strukture, die Wet op Munisipale Stelsels en die Munisipale Finansiële Bestuurswet oortree.
Artikels in dié wetgewing bepaal duidelik dat ’n raadslid wat finansieel voordeel trek uit munisipale kontrakte, uit sy amp ontslaan moet word, en dat ‘n boete nie ’n wettige strafsanksie is nie.
Die VF Plus vra ook in die skrywe aan Mamabolo dat hy raadslede wat vir die boete gestem het, ingevolge die Wet op Munisipale Stelsels moet ondersoek aangesien hulle self ook aanspreeklik gehou moet word vir ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose besluite.
Die VF Plus stel dit onomwonde dat sy raadslede teen hierdie besluit gestem het en dat die party sal aanhou om volle nakoming van wetgewing te eis, verwysing van onreëlmatighede na wetstoepassingsagentskappe te ondersteun en te veg vir die herstel van integriteit in Tshwane se bestuur.


