Die Tshwane-metroraad het gister tydens ʼn raadsvergadering die Munisipale Strukturewet geminag deur ʼn verslag wat handel oor ʼn ANC-raadslid wat ses agtereenvolgende raadsvergaderings nie bygewoon het nie, te onttrek.
Die gedragskode vir raadslede, soos vervat in die Munisipale Strukturewet bepaal dat indien ʼn raadslid drie of meer raadsvergaderings sonder ʼn geldige verskoning nie bywoon nie, die raadslid van sy amp onthef kan word.
Die VF Plus het daarop aangedring dat die verslag behandel word, maar die ontrekking van die verslag is deur die ANC/EFF ondersteun.
Die VF Plus gaan nie die saak daar laat nie en sal die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Jacob Mamabola, vra om die aangeleentheid te ondersoek.
Raadslede moet ongeag van hul party politieke affiliasie tot verantwoording geroep word as hulle die gedragskode vir raadslede oortree.
Dit blyk egter of daar in die Tshwane-metro verskillende standaarde is vir die onderskeie politieke partye.
Die VF Plus sal altyd opstaan vir die oppergesag van die reg en die handhawing van etiese leierskap.