Die Tshwane-metro moet alles in sy vermoë doen om voorafbetaalde kragmeters aan behoeftige inwoners in sy gebied te voorsien.
Luidens ʼn verslag wat Donderdag voor die raad gedien het, is slegs 185 voorafbetaalde meters tussen Julie en September vanjaar by behoeftiges se wonings geïnstalleer.
Die mikpunt is om teen Junie aanstaande jaar 7 640 meters suksesvol te installeer. Dit beteken die metro sal vanaf November vanjaar meer as ‘n duisend meters per maand moet installeer.
Behoeftiges wat kwalifiseer, ontvang ʼn voorafbetaalde meter asook 50 krageenhede gratis.
Van dié mense is egter hewig gekant teen die installasie van die meters.
Een van die redes is dat baie van hierdie mense se kragrekeninge agterstallig is en wanneer ʼn voorafbetaalde meter geïnstalleer word, die agterstallige skuld eers verhaal word alvorens hulle kan krag aankoop vir eie gebruik.
Indien die metro voorafbetaalde meters aan behoeftige inwoners verskaf, sal agterstallige skuld verhaal kan word en voorkom dat skuld ophoop tot onaanvaarbare vlakke.


