Die burgermeester van die Tshwane-metro, dr. Nasiphi Moya, se stadsrede is gebaseer op vele ongegronde aannames en gevolglik leë beloftes waaronder basiese dienslewering skade gaan lei.
Die VF Plus het reeds die voorlegging van ‘n befondsde begroting gekritiseer aangesien dit hoofsaaklik gegrond is op die verhoging van inkomste deur middel van eiendomsbelasting.
In hierdie stadium kan dit slegs as ‘n aanname beskou word aangesien die proses rondom die hersiening van die waardasierol, waarvolgens die verhoging in invordering van eiendomsbelasting gegrond is, nog nie afgehandel is nie.
ʼn Groot ophef is gemaak van ekonomiese groei van 3,9% vanaf 2026 tot 2029 deur die skep van ‘n beleggersvriendelike omgewing. Hoe dit bereik gaan word bly ‘n ope vraag aangesien ‘n onlangse opname onder beleggers aangetoon het dat daar geen aptyt is om in Tshwane te belê nie.
Geen aansporingsmaatreëls word in plek gestel om wel aan hierdie verwagting te voldoen nie.
Suksesse in die delging van onder meer Eskom-skuld word hoog aangeprys alhoewel dit slegs ‘n nakoming van ‘n hofbevel is. Indien daar nie aan die hofbevel voldoen is nie, sou dit Tshwane in ‘n finansiële krisis dompel.
Vermindering in die debiteureboek vanaf bykans R30 miljard tot R25 miljard word as ‘n hoogtepunt uitgelig en sou te danke wees aan die toepassing van beter inkomste verhaling van agterstallige skuld asook die implementering van die onlangse skema vir die afskrywing van agterstallige skuld.
Aangesien daar geen konkrete syfers genoem is nie, hang die vraag in die lug oor die sukses van invordering teenoor die afskrywing van skuld en wat die impak daarvan is op kontantvloei.
Beloftes vir die verbetering van basiese munisipale dienste is ‘n droom. Die huidige toestand in Tshwane is ‘n getuienis daarvan en inwoners ervaar in werklikheid agteruitgang in basiese dienslewering.
Suksesse behaal en beplan kan toegeskryf word aan die fondament gelê deur die vorige administrasie waarvan die VF Plus deel was.
Een voorbeeld hiervan is die beskerming van die raad se bates deur gebruik te maak van tegnologie in stede van sekuriteitsdienste. Pionierswerk gedoen deur die voormalige VF Plus-burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, Grandi Theunissen, word nou toegeskryf aan die werk gedoen deur die huidige ANC-EFF-ActionSA-koalisie.
Dieselfde geld vir verskeie projekte onderneem deur die vorige VF Plus-burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, Rina Marx.
In kort kan die stadsrede beskou word as ‘n onhaalbare wenslysie saamgestel op ongegronde aannames gemaak deur die huidige regerende koalisie.
Die VF Plus in Tshwane sal met streng oorsig egter toesien dat daar sover moontlik aan hierdie wenslys voldoen word as uitgangspunt om basiese dienslewering aan inwoners te verbeter.


