Die VF Plus het die Lekwa-plaaslike munisipaliteit se munisipale bestuurder versoek om dringend in te gryp by die voortslepende rioolkrisis in Standerton.
Die party het ná verskeie klagtes van sakelui en inwoners weereens druk begin toepas op die munisipaliteit wat Morgenzon en Standerton bedien.
In ‘n griefskrif aan die munisipale bestuurder, mnr. Malosi Lamola, dring inwoners daarop aan dat daar so gou moontlik aandag gegee word aan die herstel van rioolprojekte wat onlangs deur die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit (GSDM) in Lekwa aangepak is.
Daar is reeds miljoene rande aan die opgradering van die plaaslike rioolnetwerk bestee. ‘n Nuwe rioollyn is ook in Kerkstraat, tussen Von Backström- en Schwichardtstraat, aangelê.
Ten spyte van hierdie opgraderings vloei riool steeds in die strate af elke keer wanneer dit reën.
Hierdie situasie is ‘n weerspieëling van swak beplanning, swak implementering en ‘n gebrek aan behoorlike toesig. Dit dui op ‘n ernstige tekortkoming in dreinering en infrastruktuur-integrasie.
Die opgeknapte Muller-rioolpompstasie, wat veronderstel is om ‘n sleutelrol te speel in die oplossing van die dorp se rioolprobleme, is tans buite werking.
Die pyplyn tussen Muller- en Vaal-pompstasie, wat vervang is, het reeds gebreek toe pompe aangeskakel is. Dit lei tot verskeie blokkasies in die dorp se rioolstelsel en direkte rioolbesoedeling van die Vaalrivier.
In Kroghstraat is ‘n gedeelte van die rioollyn vervang, wat moontlik een onderneming se probleem opgelos het. Maar as gevolg van slegte aansluitings en swak vakmanskap, veroorsaak dit nou skade en rioolprobleme vir verskeie ander ondernemings in Walter Sisulu-rylaan.
Hierdie rioolprojekte was deel van die nasionale ingryping waarvan GSDM die implementeerder was.
Die VF Plus sal hierdie onhoudbare situasie noukeurig monitor om te verseker dat die ekosisteem nie verder beskadig word nie en dat die natuurlike waterbronne in en om Lekwa beskerm word.
Die rioolbesoedeling hou ook ʼn gesondheidsrisiko vir inwoners in en het ʼn direkte impak op die bedrywighede van die dorp se sakelui.


