Die Tshwane-metro het in die 2024/25-finansiële jaar meer as R37 miljoen aan salarisse uitbetaal aan geskorste amptenare wat by die huis sit en wag vir hul dissiplinêre verhore.
Luidens ’n verslag van die metro se korporatiewe- en gedeelde dienste-afdeling, is daar tans 27 werknemers geskors, waarvan 23 reeds langer as drie maande wag vir hul verhoor.
Die gemiddelde koste per werker beloop meer as R1,37 miljoen per jaar – ’n las wat belastingbetalers dra, terwyl geen werk verrig word nie.
Hierdie buitensporige vertragings spruit uit swak interne administrasie.
Die metro steun hoofsaaklik op eksterne kontrakteurs, dikwels prokureursfirmas uit Johannesburg, wat teen hoë tariewe as aanklaers en voorsittende beamptes optree.
Daar bestaan boonop ernstige kommer dat sake doelbewus uitgerek word, met gerugte dat sekere amptenare of kontrakteurs na bewering finansieel voordeel trek uit die vertragings.
Die VF Plus het reeds geskryf aan die burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste, Kholofelo Morondi, en dring daarop aan dat bindende spertye ingestel word vir die afhandeling van dissiplinêre sake.
Lyntoesighouers wat toelaat dat verhore onnodig sloer, moet aanspreeklik gehou word. Daar moet ook ’n volledige hersiening van die aanstelling van eksterne regsfirmas plaasvind, met ’n moontlike korrupsie-ondersoek na verhoudings tussen amptenare en kontrakteurs. Verder moet die menslike hulpbron-afdeling dringend reggestel word om hierdie vermorsing stop te sit.
Die VF Plus sal nie toekyk terwyl miljoene rande vermors word op amptenare wat vir maande of selfs jare betaal word om niks te doen nie.
Hierdie administrasie moet verantwoordelikheid aanvaar en die vermorsing onmiddellik beëindig.


